VLVK
Kongres 2023
Datum: 17 Augustus 2023
Presidentsrede
MY TEMA VIR VANDAG IS: VLV LEER BY DIE BYE
- Ek is seker daarvan dat bye u almal al baie gefassineer het. Bye is uniek, of soos die kinders sal sê: Amazing! Die gedrag van bye het my so geïnspireer dat ek dit goed gedink het om hierdie wonderlike insek se gedrag met u te deel en dit toe te pas op ons organisasie.
Wêreldbyedag word gevier op 20 Mei. Ons kan amper sê ons vier die bye se verjaarsdag. VLVK is gestig op 15 Oktober 1929 te Franschoek – VLVK se stigtingsdatum is dus ons verjaarsdag.
- Hoe lyk die struktuur? In elke byekorf is daar ‘n Koningingby, werkerbye en hommelbye. Die koninginby is baie belangrik en word deur die werkerbye gekies reeds as larwe en koningjellie gevoer. Sy is die middelpunt van die korf en haar werk is om eiers te lê, tot 1 000 per dag met haar lewensduur van een tot sewe jaar.
Die VLVK-president, Sirkelpresident en Takvoorsitter is die persone wat VLV moet bemark en word gekies deur die lede. Ons is die middelpunt en ons werk is om lede te werf, lede toe te rus en lede te bemagtig. Hulle moet gekoester word, ek wil amper sê, ook met koninginjellie gevoer word.
Die werkerbye vorm ‘n groep van net ‘n paar tot 60 000, sy het ‘n angel en verdedig die nes. Hulle versorg die koningin en versamel stuifmeel in hulle stuifmeelmandjie wat aan die agterpote geheg is.
VLVK-lede is die werkers, hulle brei, hekel, bak, skilder, neem foto’s, skryf stories en is eintlik die hart van VLV. VLV-lede versorg die behoeftiges, versier ons dorpe, gee om vir die bejaardes, lees stories vir die kleuters en nog vele meer.
Die hommelbye is die mannetjies, wat niks doen nie en ook deur die werkers versorg word. Al werk wat hulle het is om met die koningin te paar en word in die winter uit die korf geskop. Die paring is op sigself baie insiggewend en u kan gerus meer daaroor gaan lees op die internet.
Gelukkig het ons in VLV nie lui werkers nie!!!
- Bye is sosiaal en leef in kolonies waar hulle heeldag as een swerm werk. Daar is ‘n aantal waterdraers, wat water aandra. Die werkerbye moet ook die nes skoonhou.
VLV-lede hou vergaderings, werkswinkels, inligtingsdae, Konferensies en Kongres en kom bymekaar, nie net as lede nie, maar as jarelange vriendinne en leer by mekaar. VLV-vroue versorg ook hul eie gesinne en moet ook hier toesien dat haar huis skoon en netjies is.
- Bye werk saam met een doel voor oë om heuning te maak. Hulle werk sy aan sy. Bye het 5 oë en 4 vlerke. Bye klap hul vlerke 11,400 keer per minuut, dit is waar die zoem-geluid vandaan kom. Hulle hou so ook die korf koel. Hulle is die enigste insek wat kos maak wat ons kan eet. Elke kolonie het sy eie kleur. Hulle moet sowat 8kg. heuning verorber om een kilogram was te maak wat noodsaaklik is vir die maak van die heuningkoek. Werkerbye leef net ± 6 weke en maak elk omtrent net 1 teelepel heuning.
VLV-lede werk ook hand aan hand met een doel voor oë om vroue te bemagtig en diens in ons gemeenskappe en in ons land te lewer op talle terreine. Binne VLV word ons as vroue ook toegerus, ons leer, en kan ons kennis met ander vroue deel. As vroue bymekaar is, is daar beslis ook ‘n ge-zoem!
- Wat is hul grootste uitdaging? Om stuifmeel te vergader. Bye is verantwoordelik vir ongeveer 80% van die wêreld se bestuiwing. Dit is ‘n massiewe verantwoordelikheid vir sulke klein wesentjies. Ongeveer ‘n derde van wat ons eet is afhanklik van bye en ander bestuiwers. Groente, vrugte, en neute is veral voorbeelde daarvan.
Wat is ons grootste uitdaging! Om te bou aan die voortbestaan van ons Vereniging deur lede te werf. Deur soos die bye goed georganiseerd te wees, insiggewende vergaderings te hou, te vernuwe en lede ingelig te hou in al ses die studierigtings, so sal VLVK kan voortbestaan. Hou op om terug te kyk! Kyk vorentoe en kyk op!
- Bye werk saam aan hulle projek! Versamel stuifmeel, maak heuningkoeke, maak heuning wat baie medisinale waarde inhou, o.a. ‘n antioksidant wat breinfunksie bevorder. Elke individu het ook ‘n taak om saam hierdie projek te voltooi.
VLV-lede werk saam aan verskeie projekte. Ons plant bome vir ons kinders, ons bewaar ons erfenis, ons beveg plastiek, ons grootste vyand en nog vele meer. Elke individu het ook ‘n taak. Wat is u taak as lid? SAMEWERKING in elke opsig. Neem deel, gaan plant vandag nog daardie boom! Bring u kant.
- Die heuningkoek is uniek met sy seskantige vorms. Die mens het by die heuningby afgekyk. NASA se reeks sonspieëls vir ‘n nuwe soort meganiese werktuig is ‘n voorbeeld hiervan. Sesvlakke/heksagoon skakel ineen en vul al die beskikbare ruimte waardeur ‘n sterk struktuur sonder gapings tussenin gevorm word, vir die bye maklik om in al die hoekies by te kom.
Bye kommunikeer deur ‘n aantal swaaie van haar lyf in die vorm van ‘n 8 en sê so presies waar sy die stuifmeel gekry het en hoe ver die blomme is.
Sy vertel vir hulle hoe ver die blomme is deur middel van die aantal swaaie van haar lyf in die reguit deel van die dans. Om die rigting aan te dui, word die hoek tussen die kos en die son voorgestel deur die hoek wat die by ten opsigte van die swaartekrag (of die loodregte lyn) aanneem. Hoewel die son se hoek voortdurend verander, “weet” die by hoe om haar dans daarby aan te pas, hoewel sy nie meer die son in die donker korf kan sien nie.
VLVK is ook uniek, ons het ‘n stewige struktuur, daar is nie plek vir gapings of grys areas nie! Ons volg ons beleid en hou by die reëls. Ons kompetisiewenke is haarfyn beplan en uitgewerk en lede ontvang hierdie riglyne en weet presies hoe om die kompetisie-artikel te voltooi.
- Bye kan deur ‘n aantal verskillende virusse aangeval word en sterf a.g.v. infeksie. Hierdie bye se vlerke is vervorm a.g.v. ‘n virusinfeksie.
VLV kan ook “sterf” as ons negatiewe “virusse” toelaat! As ons wil wegdoen met ons uniekheid as organisasie, as ons aan ons karakter wil verander. Vir 93 jaar bestaan VLVKaapland, en ons word geken aan stiptelikheid, ordelikheid en goeie en deeglike beplanning. Om ons medelede te respekteer, asook ons leiers. Ons voorgangers was formidabele vroue! Vroue wat vir ons ‘n stewige fondasie gelê het.
9. Pas dus die volgende beginsels toe:
Bee kind, bee positive, bee humble, bee honest, bee grateful, BEE LIEVE in yourself.
10. Ek laat graag hierdie 5 wenke by u:
- Sip life’s sweet moments – Geniet elke VLV-geleentheid.
- Create a buzz- Maak geluide, laat julle hoor!
- Be happy – Wees gelukkig en bly saam met VLV- vriendinne, koester mekaar en ondersteun mekaar in lief en leed.
- Stop to smell the flowers – Waardeer die klein dingetjies, veral binne VLV. Waardeer en ondersteun die bestuur, Takvoorsitter en Sirkelpresident.
Always find your way home – there is no place like home.
VLV bied ‘n tuiste vir vroue, hier kan jy net jouself wees.
Vind jou tuiste ook in die Here! Dit is wat HY van ons verwag.
Laat ons voortgaan om soos die bye mekaar te dien en die belangrikste, die een hoër te ag as die ander.
So trots op ons VLVK President. Wonderlike verslag. Lots of food for thought.