Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Kunste & Kultuur, Gesondheid, Openbare Sake en Leefstyl
Datum: 2 Augustus 2023
Beriggewer: Theresa Troskie
Voorlesing:
Alna Theron doen ’n prettige voorlesing geskryf deur Kristel Loots uit die Rooi Rose: Eerbare vrou
bak en brou: ’n stadsmeisie word boervrou/skoondogter en sluit by die VLV aan. Sy besef sy sal by
’n gebak kompetisie moet uithaal en wys om skoonma te beïndruk. Sy gaan koop ’n spog melktert by ’n tuisnywerheid, “kneus” hom so ’n bietjie en wen die eerste prys, maar ai, die gevolge …!
Entrepreneur: Adri Krüger met haar besigheid, Stokkiesdraai
Toe haar keusevakke op skool nie haar goedkeuring weggedra het nie, het sy uiteindelik in die houtwerkklas beland. Ver bo haar verwagting was haar vreugde om iets met haar hande uit hout te skep! Na skool het haar houtwerk ’n heerlike stokperdjie geword.
Adri vertel dat haar besigheid gebore is uit haar stokperdjie. Aanvanklik het sy geskenke vir vriende gemaak, later het sy bestellings gekry en toe het sy vir die mark begin skep. Wanneer sy in haar houtwerkwerkswinkel is, is sy op haar gelukkige plek, tyd staan stil en sy is in ’n wêreld van haar eie. Hier vloei haar kreatiwiteitsappe en skep sy na hartelus! Sy sien haarself as ’n kunstenaar wat nie kan verf nie!
Adri herwin ou deure, vensterrame, kosyne, ens. Hieruit skep sy portretrame, spieëlrame, kaasplanke, bedkopstukke, kaste, speseryrakkies en selfs geweerkolwe!
’n Hoogtepunt was die paar jaar wat sy vir 8 Murraysburgseuntjies houtwerkklasse aangebied het. Hulle het geleer om die gereedskap te hanteer en artikels suksesvol te voltooi. So kon hulle ook die vreugde om te skep, ervaar.
Onlangs het daar ’n baie ou sipresboom voor die pastorie in Murraysburg omgeval a.g.v. reën- en stormweer. Adri het van die hout herwin, laat droog en die pragtigste artikels gemaak. Elke artikel is gekoppel aan Murraysburg se ontstaan 150 jaar gelede toe hierdie bome geplant is.
Demonstrasie: Rykmanskatkop
Renée Swanepoel demonstreer ’n rykmanskatkop.
Bestanddele: 1 heel wit brood
1 houertjie maaskaas of roomkaas
1 pakkie gesnipperde, gebraaide spek
1 koppie gerasperde cheddarkaas.
Metode:
- Voer ’n broodpan uit met foelie.
- Sny die bo-kors van die brood in die lengte af en hol die brood uit sodat net die korsgedeelte oorbly. Sit die brood in die pan wat met foelie uitgevoer is.
- Meng al die ander bestanddele en geur na smaak, bv. sout en peper, gerookte paprika, knoffel, soet chilliesous, ens.
- Skep die mengsel in die brood, plaas die bo-kors van die brood bo-op en vou toe met foelie.
- Bak vir een uur @ 180°C.
- Haal uit die oond, maak die foelie oop.
- Bedien saam met brooddeksel, wat in repies gesny word. Ook die onderste deel van die brood word afgesny en geëet totdat die vulsel op is!
Die effek van kos op jou gesondheid.
Elana Grobler deel interessante waarnemings oor die uitwerking wat kos op jou gesondheid kan hê. Sy beklemtoon dat ’n mens nie altyd met ’n eerste diagnose tevrede moet wees nie. Sy raai ons aan om te gesels met ander kundiges, vriendinne en kennisse en ’n dokter, wat ook geneig is om die natuurlike pad met tradisionele behandeling te kombineer, te vind.
Elana vertel van ’n vriendin wat al lank aan fibromialgie ly. Die erge en aanhoudende pyn in haar liggaam het haar lewenskwaliteit drasties verlaag. Na vele diagnoses en die gebruik van verskillende medikasie, het sy op aanbeveling van ’n kennis ’n refleksoloog besoek en haar dieet begin volg.
Dieet:
Hoofsaaklik rou groente.
Kies óf proteïne óf stysel.
Geen koffie – koffie onttrek kalsium en magnesium uit jou liggaam.
So min as moontlik gepreserveerde produkte.
Geen gluten.
Geen suiwelprodukte.
Nadat sy hierdie dieet ’n tyd lank gevolg het, het sy gevind dat sy baie meer energie het, baie minder pyn het, dat sy heelwat gewig verloor het en dat sy haar medikasie onder haar dokter se toesig drasties kon verminder.
Elana vertel van ’n ander kennis wat al op die ouderdom van 21 jaar gediagnoseer is met romatoïede artritis. Sy moes daagliks ’n handvol pille hiervoor drink. Sy het die newe-effekte van die pille so erg beleef dat sy chronies naar was en gesukkel het om kos binne te hou.
Uit radeloosheid het sy oorgeskakel na natuurlike kosse en die dokter het haar medikasie so ver moontlik natuurlik gehou. Sy moes ook oplet na die bymiddels by haar medikasie en sekere bymiddels sover moontlik vermy. Sy het bv. toe geleer dat origanum candida doodmaak.
Na hierdie oorskakeling kon sy slegs 2 pille per dag drink en was haar simptome van die romatoïede artritis baie beter.
Enige besluit rakende jou gesondheid of die behandeling daarvan MOET in samewerking met jou dokter gedoen word. Hierdie is slegs waarnemings, nie feite nie.
Leave A Comment