Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Beriggewer: Renè Ferreira

Datum: Julie 2023

Brackenfell-tak maak ‘n nuwe, sinvolle begin

Vanaf Januarie 2023 begin Brackenfell hul VLV-bedrywighede van nuuts af.  Daar is voorstelle gevra vir ‘n nuwe naam vir die tak en opwinding het geheers toe dit aangekondig is dat die naam Brackenfell Varings sal wees.

Uit die boek “Van toeka tot nou” (2001) van Dalena Vollgraaff, jarelange bibliotekaresse van Brackenfell Biblioteek, kry ons die agtergrond van die betekenis wat varings vir Brackenfell het.

Nadat die grond rondom Brackenfell vanaf 1897 van hande verwissel het, verkoop Andries Brink ‘n gedeelte van sy plaas, Kruispad, aan George Henry Walton in twee dele, 399 morg 350 vk.  roede en 262 morg 161 vk. roede.  George Walton, ‘n Engelsman, emigreer  na Suid-Afrika en gaan in vennootskap met die twee broers Darter in ‘n boekwinkel, Darter Bros. & Walton op die hoek van Adderley- en Kerkstraat.  Walton se twee seuns was gretig om te boer en om dié rede het hy die deel van Kruispad gekoop.

Die plantegroei op sy plaas met die koppie daarop het George Walton herinner aan die plantegroei van Skotland en daarom het hy sy plaas Bracken Fell – twee woorde – genoem.  Bracken beteken varing en in sekere dialekte heide, en Fell is die Yorkshire dialek vir koppie of heuwel.  ‘n Sylyn van die Spoorweë is aangelê en die naam Brackenfell het gebly.  Op alle ou kaarte is hierdie omgewing aangedui as Kruispad.  Die naam Brackenfell het egter goed inslag gevind en op ‘n kaart van 1901 in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, Kaapstad-afdeling, verskyn die naam van die hele gebied as Brackenfell.

Brackenfell is deel van die renosterveld en kusfynbosgebied.  Op en om Kanonkop was dit ruig begroei met erikas, suikerkanne en ander proteas, varings, tolbos, renosterbos, viooltjies, vygies, watsonias, pypies en baie ander plantesoorte.  Die Kuilsrivier was ruig begroei met varings en moes jaarliks skoongesleep word.  Geen wonder dat FS de Villiers, eienaar van die plaas wat gegrens het aan die Kuilsrivier, sy plaas Ferndale (ook een van Brackenfell se woongebiede) genoem het nie.

 

 

 

 

Op die foto v.l.n.r.:  René Nel, VLV Tygerberg Sirkelpresident, en Riana Ellis, VLV Brackenfell Varings Voorsitter.