Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 25 Julie 2023
Voëlvlei leer oor Selfbeeld – Waarheid of Persepsie?
Tydens ‘n insiggewende praatjie deur Mnr Fernando Tallie het die lede van VLV Voëlvlei gedurende hul Julie vergadering opnuut die belangrikheid van ‘n gesonde selfbeeld besef.
Selfbeeld word volgens definisie bepaal deur fisiese eienskappe sowel as aangeleerde opinies. Dis óf waar óf slegs ‘n persepsie.
Die WAARHEID van wat ‘n mens se selfbeeld is, is dit wat ons uit die Bybel leer, naamlik dat ons wonderbaarlik na Sy beeld geskape is, dat ons met eer en aansien geseën is, dat dit goed is, dat Hy ons by die naam geroep het en ons naam in Sy hand geskryf is. Die beeld wat jy dus van jouself moet hê, is dít wat jou Skepper met jou bedoel het.
Die leuen egter, is die PERSEPSIE van wat die wêreld jou wil laat glo. Jy word geaffekteer deur die seine wat jy uit die omgewing opvang deur jou ore en oë. Daarom bou jy dalk jou selfbeeld op wat jy dink die wêreld van jou dink. Jy vergelyk jouself met die voorkoms, besittings, talente en vermoëns van ander. Dan word dit moeilik om die fyn lyn tussen “Ek het misluk” en “Ek is ‘n mislukking” te verstaan.
Selfbeeld is dus ‘n voortdurende proses. Negatiewe aangeleerde gedagtes hoef nie so te bly nie. ‘n Skewe selfbeeld veroorsaak soms dat jy daarvolgens handel, en dit behoort nie so te wees nie. Ons moet dus vashou aan die waarheid en onsself positief sien soos God en nie negatief soos ons dink die wêreld se persepsie van wie ons is nie.
KOSPRYSE: Andrieshia Radyn het ‘n baie interessante “vergelyking” van basiese kos items vir ons voorgelê. Sy het pryse van Spar, Pick-‘n-Pay en Checkers vergelyk. Pryse is redelik naby aan mekaar maar op die groot totaal was Spar R18.00 duurder as die ander twee winkels. As jy die 3 winkels naby mekaar het kan jy rondloop en die “winskopies” by elke winkel koop maar as jy 50 kilometers moet ry vir winskopies is dit lank nie meer winskopies nie.
VOORSKOTE: ‘n Insetsel oor die gebruik van voorskote het die lede herinner aan die volgende funksies daarvan in vroeër dae op die plaas: Dit beskerm jou rok; dis makliker om te was as jou rok; jy haal warm panne daarmee uit die oond; jy dra die eiers uit die neste daarin; skaam kinders kruip daarin weg; jy vee die sweet van jou warm voorkop af; jy dra die appels en ander vrugte daarin van die bome af; jy stof gou die meubels daarmee af; en jy waai dit wanneer jy die manne roep om te kom eet. Van die kieme wat moontlik daarop was, was niemand ooit bewus nie, het niemand ooit siek geword nie, maar van die liefde wat daarin toegevou was, het almal gedy.
‘n BIETJIE VROLIKHEID: Die byeenkoms is afgesluit deur die vrolike sing van ou volksliedjies. Almal is met ‘n vriendelike gesig en ‘n baie beter selfbeeld huis toe.
Leave A Comment