Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Hermien Van Zyl
Datum: 25 Julie 2023
“Bly Vlugvoetig deur Verandering”
Dit was die gedagte wat Corinne de Haas, bekende pottebakker van The Potter’s Gallery op Kleinmond, as gasspreker by die VLV se Kunste&Handvlyt-vergadering gelaat het. Met die oog op die Keramiek- en Porseleinfees wat in September 2023 deur die Kleinmond se Sakekamer aangebied word, en waar VLV weer ‘n High Tea gaan voorsit, het sy die proses om ’n keramiekkoppie, -piering en ‘n -teepot te maak, verduidelik. Keramiek staan vandag sy plek op die teetafel vol. Beurtkrag is die pottebakker se grootste uitdaging en sy het verduidelik hoe sy en haar span met goeie beplanning die gespesialiseerde hitte van die oonde verseker. Sy eksperimenteer gedurig met nuwe teksture, vorms en glasure omdat dit so opwindend is om met klei te werk.
Corinne de Haas, links, saam met Annie Jooste, saamroeper Kunste&Handvlyt
Corinne besig met haar verduideliking
Gerhard du Plooy, lid van die Kleinmond Cantare Mannekoor, was die gaskunstenaar vir die middag en het die gehoor doodstil gehad met sy drie liedere met kitaarbegeleiding.
Gerhard du Plooy, gaskunstenaar, in aksie
Ander kunsvorme wat aandag gekry het, was ‘n uitstalling van waterverfskilderye deur die begaafde Jeanette Schoonraad en grafietsketse deur haar seun Gideon Schoonraad. Aandag is ook aan blommekuns gegee met ‘n blommekompetisie “Winterwit” en ‘n ongelooflike verhoograngskikking in keramiekpotte.
Van die waterverfskilderye
Die koue wintermiddag is gepas afgesluit met verskillende soppe met garnerings en gourmet toebroodjies.
Heerlike sop & broodjies.
Die treffende verhoograngskikking
Blommekuns – van die kompetisie-inskrywings vir “Winterwit”
Anna van Zyl, links, was die wenner van die uitlootpakkie. Louise Bruwer, voorsitter, oorhandig dit aan haar.
Fotograaf Alice van Rooyen hierdie slag vóór die lens
Leave A Comment