Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 21 Julie 2023
Eet julle Naartjies?
Wat in die beplanningsfase ‘n dood normale Sop & Soetes vir Vrydagaand, 21 Julie 2023 sou wees het – met ‘n goeie skeut opportunisme – ontpop in ‘n volbloed VENDUSIE.
Waar daar tradisioneel 80 kaartjies verkoop is, moes ekstra tafels aangery word om die 110 sopeters in te pas. Almal op die waglys is geakkommodeer en dit nog voordat die verrassingselement (‘n wynveiling) aangekondig is.
Toe Marais met sy sleepwa instoot, was die tafels reg! Die houttafels het eenvoudige rangskikkings met goeie impak gehad. ‘n Hen-en-kuikens is sorgvuldig teen ‘n middelstokkie opgelyn om die effek van ‘n boompie te skep. Verder was daar eksemplare van die Suidernuus op elke houtblad neergesit sodat gaste die kleurvolle foto’s van VLV Bredasdorp tak op verskeie agterblaaie kon sien. Paraffienlampies en ‘n komplimentêre bottel wit en rooi wyn het die tafelstyl voltooi. Marais het met sakke vol donker-oranje naartjies ingewarrel en wou weet, “Eet julle naartjies?!” Dit vertel iets van die gees van hierdie samaritaan.
“Vanaand sit almal wat ‘n oupagrootjie, oom, neef, broer (en dalk boon-op sélf boer!) saam met die Vroue Landbouvereniging voor ‘n kaggelvuurtjie in Bredasdorp se Overberg Agri Landbou Opleidingsaal. Ons boer vooruit…mag ons spaarvarkie vanaand op ‘n VOL maag gaan slaap,” dít was die ‘openingsrede’ van die voorsitter, VLV Bredasdorptak, Letty-Ann Möller.
Die afslaer verdien twéé medaljes omdat hy die sku-bieërs tot koop beweeg het.
Die spaarvarkie het nie honger gaan slaap nie. Die 110 gaste óók nie! In die woorde van Marais Brink toe hy die volgende oggend uit Robertson bel…
“BAIE DANKIE vir daai dame wat die pot sop en soetes gemaak het en baie groete vir Madelé Burger, tessourier van Bredasdorptak en as my FAMILIE sê dit was lekker, dan wás dit lekker. Ons het die aand baie geniet.”
Foto: Collage beeld die sinopse van die suksesvolle wynveiling uit.
Leave A Comment