Tak: Klein-Brakrivier

Sirkel: SWD

Portefeuljes: Leefstyl en Landbou&Tuinbou

Verslaggewers: Lydie Terblanche (met Gerda Sieberts & Dawn Greyling in opleiding)

Datum: 18 Julie 2023

 

BROOD, KAAS EN KOFFIE – WAT MEER KAN MENS VRA 

Dinsdagoggend, 18 Julie 2023, het die Klein-Brakrivier VLV-tak ‘n uitstappie na die Spekboom Deli en Jooste Bergh Artisan Cheese geniet. Die groot groep lede (met sommige gades) is in drie groepe onderverdeel en het geroteer sodat almal die verskillende aktiwiteite kon waarneem. Tannie Anna van die Spekboom Deli en Jean-Mari van Jooste Bergh Artisan het die tak-Voorsitter met raad en daad bygestaan, om hierdie oggend te laat realiseer. Met aankoms kon almal vars gebakte skons en koffie geniet, voordat die leerskool in alle erns begin het.

Dawid Jacobs, is ʼn kenner op die gebied van koffie meng en rooster. Hy vertel dat sy spesialiteit koffie ʼn mengsel van vier lande se bone is (Brasilië, Guatemala, Colombia  en Tanzanië) wat hy medium rooster vir ʼn uitstekende koffie. Interessante feit is dat koffie net op of naby die ewenaar verbou word. Almal kon Dawid se vars koffie wat hy aan die Deli voorsien, probeer, nadat die mond eers met water gespoel is om die ware smaak te kan waardeer.

Die Spekboom Deli se bobaas bakker Gerhard Shacks het ‘n passie vir brood. Hy bak ‘n groot verskeidenheid Ciabatta brood (plus minus 800g), met byvoorbeeld rooibostee, sonneblomsaad, heuning, gedroogte tamatie en olyf smake. Gerhard se brood bevat geen preserveermiddels nie, en hy maak ook onder meer broodrolletjies, Joodse brood vir die Sabbat, bruinbrood en rogbrood per geleentheid. Hierdie man begin soms tweeuur in die oggend en bak tot soveel as 102 brode per dag. Die bestanddele is eenvoudig – meel, sout, suiker en gis. Die deeg word 10 minute geknie waarna dit eenkant geplaas word om te rys, dit word dan in brode gevorm en word vir 32 minute gebak. Vyf minute in ‘n baie warm oond en dan 27 minute teen ‘n laer hitte. Gerhard gebruik bakpapier sodat die brood nie ander smake aanneem nie. Wat ‘n voorreg is dit nie om met so ‘n warm, vars brood huis toe te gaan nie.

Jean-Mari en Jooste Bergh is die eienaars van Jooste Bergh Artisan Cheese. Hul handgemaakte kaas bevat geen preserveermiddels en word van slegs drie bestanddele gemaak, die noodsaaklike vars en romerige Jersey melk word deur ‘n nabygeleë boer verskaf, waarby ‘n kultuur en plantaardige stolmiddel gevoeg word. ‘n Wye verskeidenheid kaas word  hier gemaak en te koop aangebied, soos Cheddar,  Monterey Jack, Romana, Feta en vele meer.

Almal het beslis hierdie uitstappie terdeë geniet.