Sirkel: SWD
Tak: Klein-Brakrivier
Studierigting: Leefstyl
Beriggewer: Lydie Terblanche
22 Junie 2023
SO MAAK MENS
Klein-Brakrivier VLV-tak het hierdie jaar reeds ‘n reeks baie gewilde werksessies aangebied. Die nuutste, op 22 Junie, was ‘koekie versierings’ wat deur Edna Myburgh van die bekende Cake Petal en haar mentor Hilary Otto, aangebied is. Edna is ‘n ou bekende by die tak en ondersteun hulle gereeld met skenkings en leerskole. Hierdie keer gaan dit oor ‘n 2024-kompetisie item “Soetkoekies versier met koekie-kuns (royal icing)”
Dit klink makliker as wat dit is, maar daar is ‘n hele klomp vaardighede en beslis tyd en ervaring agter hierdie kuns.
- Gebruik eiers by kamer temperatuur.
- Druk eierwit deur ʼn moeselien doek om die dun draadjie wat die wit aan die geel verbind terug te hou en die eierwit op te breek.
- Klits eierwit in ʼn skoon glasbak.
- Gebruik fyn versiersuiker, sif 2 tot 3 keer deur ʼn fyn sif of moeseliendoek.
Korreltjies wat agterbly word weggegooi.
- Versiersuiker kan met hand of masjien gemeng word. Klits 5 minute op medium spoed net tot regte dikte, indien dit te lank geklits word verloor dit glans en het dit ʼn dowwe voorkoms.
- Konsistensie van koninklike versiersuiker is soos die van styf geklitste room.
- Daar is drie diktes koninklike versiersuiker.
- Dik: vir maak van bv. rosies
- Medium: vir spuitwerk – omlyning
- Dun – vir inloopwerk. Versiersuiker word verdun tot volgende dikte deur druppeltjie vir druppeltjie water of eierwit stadig met die hand in te meng. (Elektriese menger veroorsaak lugblasies). ʼn Oordruppertjie werk goed. Versiersuiker vir inloopwerk het die regte bestandheid as jy met snykant van die mes ʼn streep deurtrek en die sny nie toeloop voordat jy tot sewe getel het. Versiersuiker moet binne 7 tot 8 sekondes styf word. Versiersuiker word gekleur met gel kleursel.
- Vermy ʼn te fyn kantagtige ontwerpe of versierings wat uitstaan, kan breek.
Onthou die koekies moet vervoer word.
Versiering:
- Die koekies word versier deur ʼn rand met ʼn dun versierbuisie van koninklike versiersuiker op koekie te spuit. Die rand word altyd eerste gedoen. Moet nooit probeer om direk op die koekie te spuit. Heg die versiersuiker op die koekie, pas druk toe op buis, hou die versiersuiker in die lug en laat dit dan saggies op die koekie val.
- Sodra die rand droog is word dit opgevul met inloop versiersuiker.
- Inloopwerk moet tot teenaan buiterand wees. Gebruik ʼn hoedespeld om tot teen rand te stoot of om lugblasies te verwyder. Koekies kan onder ʼn waaier geplaas word om glans te behou. Glans van inloopwerk gaan verlore as dit te lank neem om ʼn harde bokant te vorm. Vermy om op ʼn reëndag of ʼn dag wanneer humiditeit baie hoog is met inloopwerk te werk.
- Stamp koekie saggies op werksblad om lugblasies uit te kry en om inloopwerk mooi glad te kry.
- Buite rande het gewoonlik dieselfde kleur as inloopwerk, maar vir ʼn spesiale effek mag dit verskil. Hou altyd versiersuiker wat nie gebruik word toe, dit droog uit en word gou hard. Gebruik ʼn klam lappie om jou versierbuisies toe te vou, anders raak die versiersuiker in die puntjie van die buisie hard.
Almal wat hierdie klas bygewoon het, was dit eens dat nuwe vaardighede makliker onder ‘n ervare kenner aangeleer kan word.
Die volgende foto’s verteenwoordig al die verskillende aspekte van die werksessie.
Leave A Comment