Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 20 Junie 2023

VLV Voëlvlei leer van Kwiltwerk

Die allermooiste voorbeelde van kwiltwerk het die oë van die lede van Voëlvlei VLV-tak behoorlik laat rek by hul Junievergadering op Vleesbaai.

Rita Cloete, kwiltmeester en inwoner van Heroldsbaai het op die vrolikste en mees entoesiastiese wyse die dames se kennis van kwiltwerk behoorlik verbreed.

Sy is bygestaan deur Engela Buys van Diepkloof VLV en lid van die Kwiltersgilde wat ook met allerlei praktiese wenke gehelp het.

Vier soorte kwiltwerk is behandel. Tradisionele kwiltwerk, Paperpiecing, Appliek en Crazy Patch is elke keer met die korrekte metodes gedemonstreer. Raad is gegee oor die mates, uitknip, patrone, gereedskap, naaimasjienvoetjies en stik van lappies. Daar is ook presies gewys hoe nate en lappies gestryk moet word. Die verskillende variasies van Log Cabin is getoon en die uitdruk van patrone op die rekenaar is presies verduidelik aangesien die drukwerk alles op dieselfde rekenaar gedoen moet word.

Die prag van sulke handewerk lê verseker in die tyd en liefde wat daarin gaan. Selfs mense wat geen kennis het, of nie die vaardighede het om dit self te maak nie, kan dit net waardeer en geniet vir die wonder van kuns met lap, en Rita is ‘n kwiltkunstenaar by uitnemendheid.

Insetsels is ook gelewer oor troeteldierversekering, die liggaam se wondervermoë om self te herstel en nuwe selle te vorm asook die waarde van vriendskap.

Dit was voorwaar ‘n baie leersame vergadering.

Rita Cloete (regs) en Engela Buys

 

 

 

 

 

Rita Cloete met een van huur nuwe projekte