Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Leefstyl, Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Theresa Troskie

Datum: 14 Junie  2023

 

Wilna Pienaar demonstreer die maak van ’n sement-voëlbadjie.

Hierdie artikel  is uiters maklik om te maak en dis baie bevredigend om jou handewerk agterna in jou tuin te gebruik.

STAP 1:  Maak ’n holte in die grond, so groot en diep soos jy jou badjie wil hê.

STAP 2:  Voer die holte netjies uit met ’n gebruikte soutsak of iets soortgelyks.  Kyk dat die plooie van die sak by die rondings mooi egalig versprei word.

STAP 3:  Meng jou sement deur 3 dele gesifte riviersand en 1 deel sement te gebruik. (1:3)

STAP 4:  Voeg water bietjie-vir-bietjie by.  Dit moenie te slap wees nie.  Dit moet nog gevorm kan word.  Gooi die sement in die vorm en vorm dit met jou hande na keuse.  Jy moet natuurlik plastiekhandskoene dra!!  Indien jy sementvorms wil maak om te gebruik, moet dit vooraf geskied.  ’n Wenk is om die vorms in ’n sykous te modelleer en te laat droog word.  Die sykous word dan later afgetrek.  Vormpies/versierings kan nou in die badjie of op die rand vasgedruk word.

STAP 5:  Maak die vorm in die winter toe met ’n sak sodat ryp dit nie kan beskadig nie en laat dit vir  so 3 dae droog word.  Haal uit die gat en hou die badjie klam met water solank hy verder droog.  Dit voorkom barsies en maak hom dig.

STAP 6:  As die badjie droog genoeg is, word droë sement oorgestrooi en nou kan skurwe plekke mooi glad geskuur word en lelike of skerp rande kan met ’n klip weggeskuur word.

Bekendstelling van Foodsocks

Lynzelle van der Merwe is nou ’n bemarker van hierdie wonderlike produkte wat selfs deur Nataniël onderskryf/goedgekeur is.  Dit is ideaal om in ’n plaasstoor vir werkers aan te word.

’n Foodsock bestaan uit ’n hele ete.  By sommige kan daar nog bestanddele soos bv. vleis of hoender bygevoeg word vir ’n gesonde maaltyd.  Dit kom in twee groottes, klein vir 2 persone (teen R35) of groot vir 4 persone (teen R45).  Hierdie etes is voedsaam en ook baie geskik vir stappers en kampeerders.

8 Verskillende geregte is beskikbaar, bv. melkkos en breyani.

Wilna Pienaar

 

 

 

 

 

 

 

 

Lynzelle van der Merwe