Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Christelle Nel
Datum: 7 Junie 2023
Antieke Karoohuis kry ‘n splinternuwe baadjie met ‘n spogtuin
Tydens Aberdeen VLV se Junie-vergadering was die studierigting aan die beurt dié van Kunste, Handvlyt & Leefstyl, onder leiding van Saamroeper Karen van Rensburg. Die vergadering vind plaas by Karen se huis in die dorp.
Karen van Rensburg open met skriflesing uit Ef 3:19 met die tema “Die Oorvloedige Lewe”, waarna Annalie Lategan ‘n pragtige gebed doen. Voorsitter Lea van der Vyver heet almal welkom. Na afhandeling van ‘n paar VLV sake, word Peggy Johnson, nuwe inwoner, aan die woord gestel waartydens sy vir die lede meer vertel oor haar groot stokperdjie en liefde, naamlik die maak van kwilte. Ongelukkig kon Peggy nie ‘n demonstrasie lewer nie, aangesien haar reuse industriële masjien met mates 1m x 4m nog nie opgestel is nie. Peggy kon darem vir die lede ‘n pragstuk wys wat uitgestal was, asook ‘n klein voorbeeld van ‘n ander tipe kwilttegniek.
Die lede besigtig Karen se huis – ‘n pragtige antieke Karoohuis wat tot sy volle glorie gerestoreer is, waarna almal deur die tuintjie stap. Haar groen tuinvingers is verstommend sigbaar in die pragtige tuintjie wat binne ‘n jaar in ‘n lushof omskep is.
Toe raak dit tyd om die innerlike te versterk. Daar is heerlik weggelê aan Lizé de Jager & Christelle Nel se sop en tuisgebakte brood – so sinoniem met die winter. Heidi Lombard wen die gelukkige trekking van die dag.
Een van die interessante hoekies in die tuin
Links: Die stoep is sinoniem met pragtige kunssinnigheid Regs:‘n Pragtige kwilt gemaak deur Peggy Johnson
Links: Saamroeper vir Kunste & Handvlyt, Karen van Rensburg (regs) en die spreker van die dag, Peggy Johnson. Regs: Die dames wat gesorg het vir die verversings vir die dag – Lizé de Jager (links) & Christelle Nel
Lavender en rose uit Christelle Nel se tuin verfraai die tafel
Vlnr: Heidi Lombard, Annalie Lategan, Luise de Jager, Lizè de Jager, Engela James, Christelle Nel, Carina Esterhuizen en Nelsia Nel. Voor: Karen van Rensburg & Lea van der Vyver
Leave A Comment