Sirkel: SWD

Tak: Oudtshoorn

Portefeulje: Landbou & Tuinbou, Leefstyl en Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Isabella Jansen vanNieuwenhuizen

Datum: 6 Junie 2023

 

Die Uitdaging van Verandering: potpourri

Met die lede elkeen in ‘n potpourri van voorskote getooi, was die tema dadelik duidelik.

Na die opening het Trienie Barnard vir ons ‘n mooi, pittige voorlesing oor die geskiedenis van die voorskoot voorgehou, die voorskoot as simbool daarvan om  liefde te gee.

Alet Badenhorst het haar kenteken ontvang vir 10 jaar lange lid van die VLV. Baie geluk Alet!

Daarna was Alet ook aan die woord om ons baie onderhoudend meer van die woudpapegaai (voël van die jaar), en die bome van die jaar, die saliehout en die vanwyksboom te vertel. Na haar praatjie kyk ons weer met nuwe oë na ons natuurprag.

Van gewoon na buitengewoon was die plaaslike fotograaf Anita van Zyl se boodskap, en hoe om dit met jou selfoonkamera reg te kry. Ook wys sy ons watter ongebruikte (vir die meeste van ons) knoppies op ons selfoontoep is om te gebruik. Na haar praktiese sessie het die lede van die geleentheid gebruik gemaak om hul nuwe kennis in te span en met hul selfone objekte op te stel en foto’s te neem. Die foto’s is daarna aan almal gewys en wenke gegee hoe om dit na buitengewoon te verander. ‘n Verdere praktiese werkswinkel word ook met die fotograaf gereël waar daar weer met nuwe oë na die neem van foto’s gekyk sal word en geoefen sal word.

Die vergadering is oudergewoonte afgesluit met heerlike versnaperinge terwyl die lede gesellig gekuier het.

               

Alet Badenhorst met haar 10-jaar kenteken            Alet Badenhorst aan die woord

 Lede in hul voorskote getooi

 

 

Anita van Zyl gee wenke vir die gebruik van ‘n selfoonkamera