Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Studierigting: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 6 Junie 2023
VLV Bredasdorp tak se Kunste en Handvlyt vergadering gehou op 6 Junie 2023 in die Overberg Agri Opleidingsaal het ‘n saal vol lede en gaste opgelewer. Daar is by die geleentheid sinopties terugvoer gegee oor die inligtingsdag gehou op Kleinmond. Sewe Bredasdorpers was daar en Diana Odendaal, sekretaresse van die tak, het op haar kenmerkende manier elke artikel onder bespreking kortliks opgesom en oorgedra.
Ons takkompetisie het rosyntjiebrode en shabby chic lapboeke ingesluit en volledige kommentaar is deur die beoordelaar, Charlene le Roux, hieroor gelewer. Beurtkrag en klam weer het ‘n paar bedremmelde rosyntjiebroodjies opgelewer maar die lapboeke lyk belowend.
Carene Cooper is ondervoorsitter van die tak en sameroeper van Kunste en Handvlyt. Haar groepie het die opening, tee, gelukkige trekkings, ‘n item, ‘n demonstrasie en heerlike skons en tee opgelewer.
Lorraine het die opening gedoen, Carene het ‘n kostelike gedig oor oud word voorgelees en Annemi Fourie het almal verras met die eindproduk van haar skeppende legkaarte (drukwerk) op lap en ander mediums. Dit is Annemi wat ons VLV-embleem op die swart T-hemde vir die Women Walk the World gedruk het.
Die hoogtepunt van die middag was die gasspreker, Eddie Blight (sy vrou, Marina – een van ons VLV-lede – het Grace Kunsgalery op Bredasdorp). Eddie het die verband tussen kuns/kreatiwiteit en emosionele welstand uitgespel. Volgens ‘n Britse eksperiment is 35% minder mense afhanklik van behandeling vir angs en depressie as hulle kreatief is en 27% minder mense het mediese behandeling nodig as hulle gereeld kunsgalerye besoek. Eddie het die gehoor gefokus gehou met sy toe-oë-eksperimente en almal wat skilder en skryf en musiek maak (en VLV artikels maak!) is inderdaad besig om in hulle eie geestestoestand te belê. Eddie het ook verwys na die toegevoegde waarde van sosialisering van groepe soos die tak se Amigurumi’s (hekel en brei) en taklede wat saam met die Goue Vroue blog (skryf) en selfs van dié wat Grace (kuns) besoek waar hulle saam kuier tussen die mooi skilderye.
Hallo, ek sien ‘n blaadjie van Joanie Pretorius se
Lapboek.Ek is geïnteresseerd. En sal graag wil weet war die voorskrifte was. Ek het ‘n klompie “lap” wat ek vir so-iets sou kon gebruik. Kan julle dit dalk met my deel?
Baie dankie