Sirkel: Tygerberg
Tak: Brackenfell
Studierigting: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Renè Ferreira
Datum: 1 Junie 2023
Die Landbou Sameroeper van Brackenfell se VLV-tak het die afgelope week ‘n baie interessante program gehad waar Linda Marais kom gesels het oor “Kompos uit tuin- en huisafval”.
Linda het in diepte gesels oor ‘n komposhoop en ‘n wurmplaas. Sy voel sterk oor ‘n volhoubare lewensstyl en dat kos nié gemors moet word nie – sy gee wenke wat ons met oorskietkos kan doen en demonstreer ‘n kompos-bakkie wat by ‘n sportwinkel gekoop is en wat in haar eie kombuis staan vir afval. Nadat sy verduidelik het wát alles in ‘n komposhoop kan ingaan, sê sy ‘n werkende komposhoop moet klam, warm, reukloos, pesvry en higiënies wees. ‘n Wurmplaas weer, het volgehoue aandag nodig, vir 1 kg wurms moet jy 1 kg “kos” per dag ingooi. Die “wurmplaas” het grappige tussenwerpsels uit die gehoor ontlok omdat hulle so vinnig aanteel. Linda sê sy het in al die jare wat sy tuinmaak, nog nooit kompos aangekoop nie, sy maak nét haar eie.
Linda Marais, besig met haar aanbieding
Die dames was dit eens dat hulle deur die aanbieding bemagtig en ingelig is en het net weer die waarde van die VLV besef. Enige dame wat daarin belangstel om deel te word van die VLV-Brackenfell, kan die volgende vergadering se datum aanteken: 3 Augustus 2023 om 09:00 in Die Ark by NG Kerk Brackenfell-Wes. Bring ‘n beker en ‘n bordjie vir die heerlike tee of koffie agterná!
V.l.n.r. René Nel (Sirkelpresident), Riana Ellis (Takvoorsitter), Linda Marais (Aanbieder) en Elsa Groenewald (Landbou Sameroeper)
Leave A Comment