Sirkel: Paarl
Tak:Wellington
Woman Walk the World
Beriggewer: Juanita Loubser
Datum: Mei 2023
Alhoewel ons altyd Woman Walk the World in April doen, het die klomp vakansiedae en lang naweke ons bietjie gevang. Met die Pase agter die rug en Pinkster toe op hande, het ons by Salem Bybeltuin gaan stap in Noorder Paarl, net langs Rhebokskloof. Wonderlike skoon oop hemel en oggend vol vars lug begroet ons. Daar is ‘n effe moeiliker staproete teen die berg uit, maar ons neem die makliker een vandag.
Jaco is ons gids vir die volgende uur en neem ons op ‘n toer deur hierdie besonderse tuin teen die hange van Paarlberg. Met elke uitbeelding in die tuin vertel hy die Bybelse konneksie vanaf Genesis af. Dit is ‘n rustige stap en baie maklike terrein om te loop. Daar is die mooiste mosaïek uitbeelding van die Boom van die Lewe aan die Begin.
Ons stap voort na standbeelde van Moses en Dawid. Die tuinpaadjies begelei ons na die kruise wat Jesus se kruisiging simboliseer. Ons besluit sommer om ‘n groepfoto te neem by hierdie besonderse plek in die tuin.
Verder aan word die oop graf uitgebeeld met die klip wat weggerol kan word. As jy verder kyk as net die uitbeeldings in die tuin, sien jy die mooi rondom die tuin ook raak. Die berge in die verte, die landerye en ook al die diere wat vrylik kan wei.
Verskeie ander gebeure van die Bybel word in die tuin uitgebeeld deur plaaslike kunstenaars se kunswerke en denke. Die Fynbos en surings in die harde pad simboliseer weer dat dit nie saak maak watter pad jy vat nie, bly net moedig en hou aan. Treetjie–vir-treetjie.
Die offer wat Abraham moes bring
Boom van die lewe Mosaïek
Die oop graf
Kruise van kruisiging
Salem
Salem se algemene inligting
Salem uitleg
Stappers
Leave A Comment