Sirkel: Kalahari
Tak: Vryburg
Studierigting: Opvoeding en Kultuur
Datum: Mei 2023
Beriggewer: Nellie Viljoen
Om vroeë kinderontwikkeling te bevorder het lede van Vryburg Vrouelandbouvereniging besluit om herwinbare items in die huis te omskep in opvoedkundige speelgoed vir kleuters tussen die ouderdom van 1 en 5 jaar.
‘n Pamflet met die mylpale vir elke ouderdomsgroep en 300 geskenkpakkies is opgemaak en versprei aan kleuterskole en sorgsentrums sodat kinders kan speel en mammas kan sien wat gemaak kan word uit herwinbare items in die huis. Onder hierdie items was ‘n ratel wat gemaak word uit ‘n koeldrankbotteltjie gevul met klippies, ‘n plastiese houer gevul met bottelproppies van verskillende kleure vir sorteer en tel asook gebreide poppies met ‘n kombersie vir speel. Daar was ook skryfboekies gemaak uit ou dagboeke en tennisballe in ‘n vang-en-gooi. Ou tydskrifte is in pakkies gepak met ‘n stomppuntskertjie en daarby ingesluit ‘n gomresep vir plak. ‘n Maklike, praktiese en goedkoop kleiresep is ingesluit wat mammas self kan maak.
SPEELGOEDKLEI
375 ml (1½ k) kookwater
30 ml (2 e) kookolie
500 ml (2 k) koekmeel
125 ml (½ k) sout
30 ml (2 e) kremetart
druppel koekkleursel
Meng water en olie. Roer meel, sout en kremetart in. Meng kleursel in. Knie goed. Bêre in plastiek sakkie of bakkie.
Carien van Niekerk
Leave A Comment