Sirkel: Worcester

Tak:  VLV Ceres

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  Louwna Hoving

Datum:  9 Mei 2023

VLV besoek die Togryersmuseum op Ceres

 

Berdene Laubscher, kurator

 

Die museum word gehuisves in die destydse Meule wat later na ‘n ander terrein verskuif is.

Hulle spreekwoord is:  In the community for the community.

Die Museum het verskeie bene waarop hulle funksioneer:

  • Uitstallings van versamelings: Oudhede word op ‘n permanente basis uitgestal, maar daar word ook verskeie kleiner artikels in die stoor gebêre en maandeliks op ‘n rotasiebasis uitgestal omdat die ruimte dit nie toelaat vir permanente vertoning nie.  Artikels word gekeur om in die museum opgeneem te word.
  • Gemeenskapsbetrokkenheid: Verskeie sosiale projekte word aangepak soos Kinder- beskermingsweek, Sopprojek om voedsel aan minderbevoorregtes te voorsien, Love Bear-projek en Erfenismaand word gevier.
  • Toerisme: Betrokkenheid om die dorp bekend te stel aan besoekers van buite, maar ook aan die inwoners van die dorp.
  • Opvoedkundig: Die historiese ontwikkeling van die dorp word op hul webwerf (www.ceresmuseum.co.za) deur ‘n virtuele video beskikbaar gestel en is in Afrikaans en Engels beskikbaar.
  • Vriende van die Museum is gestig om mense betrokke te kry by die museum.

Berdene Laubscher neem lede op ‘n virtuele herinneringstoer van hoe Ceres destyds gelyk het en hoe dit nou daar uit sien.  Die dorp het ‘n grootskaalse metamorfose ondergaan as gevolg van die groot aardbewing in 1969 wat baie van die ou geboue onherstelbaar beskadig het.  Deur op die i (vir inligting) te klik vertoon hulle hoe prominente geboue destyds gelyk het en hoe dit vandag lyk.  Sy vertel ook van die verskuiwing van 21 families as gevolg van die Groepsgebiede wet en hoe ‘n herinneringsbord opgesit is ter herinnering daaraan.

So is die Sendingskool en die VG Kerk ook verskuif en Huis Maudie Krielaftreeoord is nou op die perseel opgerig.

Die bekende Belmont Hotel was aanvanklik ‘n sanitorium vir mense met longprobleme.  Met die aardbewing is dit baie beskadig.  Die enigste herinnering aan die gebou is die vuurherd wat behoue gebly het.

Standard Bank is ook een van die geboue wat nog steeds op dieselfde terrein bedryf word, hoewel die gebou totaal verander is – so ook die huis van die bankbestuurder langsaan wat nou as ‘n viswinkel bedryf word.

 

 

Cobie Coetzee

Cobie Coetzee demonstreer ook kosversiering met groente en vrugte.  Sy stel ook  Anton Prinsloo se boek:  Daar’s ‘n aap in jou koffie bekend wat handel oor Afrikaanse Eponieme.

  • Bostonbrood, afkomstig uit Boston, V.S.A, waar brood in blikke gestoom was, omdat hulle nie oonde gehad het nie.
  • Cappuccino, koffie met melk/room wat met ‘n puntjie bo-op geklits is, genoem na die Kapusyners, ‘n kerklike orde waarvan die lede ‘n mantel met ‘n gepunte kap dra en in Italiaans cappucino genoem word.
  • Crêpes Suzette – Prins van Wallis (later koning Edward VII) was ‘n kenner van die Franse kookkuns en Georges Auguste Escoffier het hom vereer deur die pannekoekgereg, genoem crêpes suzettes, aan hom op te dra. Suzette was een van die talle vriendinne van die toekomstige koning.
  • Frisbee, konkawe plastiekskyf wat as speelding gegooi word, vernoem na William Russell Frisbie, aanvanklik was dit ‘n metaal bak vir pasteie wat lugdinamies was. Walter Morrison het ‘n plastiekweergawe geskep wat met groter beheer vlieg. Hy verander die naam na frisbee om hofgedinge te verhoed.
  • Frangipani, welriekende blom, vernoem na Italiaanse adellike Muzio Frangipani wat reuk-water uitgevind het met frangipanieblomme gegeur.