Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer:Letty-Ann Möller

Datum: 2 Mei 2023

Dinsdagmiddag 2 Mei 2023 het die VLV Bredasdorp tak ‘n feitebelaaide Leefstylvergadering in die Overberg Agri Opleidingsaal gehou.  Die sameroepster was Ina Odendaal, ‘n ervare bestuurslid.  Lede is met ‘n kop vol idees en pikante moedersdaggeskenkies huis toe.

Joanie Pretorius, voormalige predikantsvrou van Riviersonderend, het gepas geopen met die gedagte dat elkeen van ons iets beteken.  Die gehoor het bestuurslede Diana Odendaal en Carene Cooper se entoesiastiese terugvoer oor die afgelope konferensie op Caledon ingedrink.

Almal het hulle verkneukel oor die modeparade wat die Leefstylgroep aangebied het…elke lid in die groep het haar gunstelinguitrusting geparadeer terwyl die voorsitster, Letty-Ann Möller, lopende kommentaar gelewer het.

 

Letty-Ann Möller en Dr Karen Wallace

Die gasspreker, Dr. Karen Wallace, het verras toe sy nie oor haar spesialiteit (Chemie) praat nie, maar wél oor haar passie, skeppende handwerk!  Karen het haarfyn verduidelik hoe sy ou klere verwerk om onder andere kwilts, brilhuisies, skouersakkies, kussings, lapballe en selfs juwele uit lap te skep.  Sy gebruik eenvoudige rygsteke  en katoen hekelgare om haar produkte met “slow stitching” af te rond en waarsku dat mens nie ou lap met nuwe lap moet lap nie.  (Dit stem ooreen met die verwysing in die Bybel na die ou wynsakke wat herstel moet word).  Lede het agterna kom kyk en hierdie kreatiewe chemikus se geheimenisse openlik waardeer.

Die dankie-sê geskenk, ‘n wit teepot met ‘n gehekelde jassie in katoengare in pastelkleure is baie gunstig ontvang.

Na afloop van die teesessie is die uitslae van die eerste takkompetisie (gehekelde ‘granny squares’) bekend gemaak en het die beoordelaar, Charlene le Roux, vier glasbekers uitgedeel volgens die volgende kriteria: netheid, moeilikheidsgraad, kleursamestelling en kreatiwiteit.

Lede het ook geleentheid gehad om die artikels wat by die 2023 konferensie gewen het  te sien en om die wenners met hulle gegraveerde trofeë geluk te wens.

Die voorsitter se uitstaltafel het Moedersdag uitgebeeld met rangskikkings in die kopblomhouers wat konferensie toe is. Daar was ook drie vignettes.  Laasgenoemde is ‘n samestelling van items wat die tema van ‘n spesifieke vertrek uitbeeld op ‘n basis en met drie of meer artikels van afwisseling van hoogtes en met iets lewendig soos blomme of ‘n plant daarby.

Ons sien met verwagting uit na 10 Mei se Inligtingsdag op Kleinmond.

Spreker ontvang haar dankie-sê geskenk.