Sirkel: Paarl
Tak: Strand
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Erna de Waal
Datum: 25 April 2023
Alet Esterhuyse, Sameroeper van Kunste en Handvlyt bied ‘n baie besondere oggend aan met pragtige musiek en interessante sprekers.
Kunstenaars: Rika Vermeulen wat die klawerbord meesterlik gespeel het en Arenda Erasmus, sangeres.
Rika Vermeulen, o.a. bekende vervaardiger, pianis en direkteur van Theatrix Singers, ‘n teatergroep van Stellenbosch, bygestaan deur Arenda Erasmus, sanger en mede-direkteur van Theatrix, het ons vermaak met ‘n mini-kabaret. Veral die Afrikaanse liedjies soos “Brekfis in Bloemfontein” en “Solly en Ma” het groot applous uitgelok.
Stephany Stone, kunstenaar wat ‘n kunsgalery in Citrusdal het
Die spreekster van die oggend was Stephanie Stone, eienares van die Clanwilliam Kunsgalery. Sy het vertel van die geskiedenis van die galery en kunstenaars wat haar pad gekruis het. Haar lewensmaat het vir haar die geleentheid gegee om op ‘n plattelandse dorpie ‘n Kunsgalery oop te maak. ‘n Man wat daar verbygekom het, het vir haar sommer uit die bloute ‘n reuse-groot lap bannier gemaak. Daarna het ‘n argitek wat daar verbygekom het vir haar ‘n naambord laat maak. Die lewe bly net een groot verrassing. Die kunstenaars op haar lewenspad was wonderlik. Sy vertel van Elly Horne van wie sy in tydskrifte gelees het wat op leiklip geskilder het. Sy het haar leer ken en sy het deur haar man van rotskuns geleer.
Christina Walters, kunstenaar van die Strand wat ook uitgestal het in Clanwilliam en (Rafels) Hannelie van Tonder, het vertel van hul verbintenis met Stephanie Stone en die kunsgalery. Sy beveel aan dat elkeen die kunshuis in Clanwilliam gaan besoek.
Prof. Pierre Volschenk, skilder en beeldhouer.
En toe die groot verrassing toe Prof. Pierre Volschenk, beroemde SA skilder en beeldhouer en steeds aktief, instap! Hy word 97 jaar oud. Stephanie Stone stel hom sommer terstond aan die woord en hy begin sommer so uit die vuis praat. Hy het ‘n lewensskets gegee en sy jarelange werk as senior inspekteur van skole (Kuns) en professor en hoof van Beeldende Kunste by Durban Westville Universiteit uitgelig. In sy onderwysloopbaan het hy vir Hans Venter ontmoet, en dié het hom geleer om sy tyd in waarde te omskep. Hy leer meer oor kleure by Jan Buys. Hy sȇ ook vir hom dat hy nie sien wat hy sién nie. Hoe meer jy weet, hoe meer sien jy. Hy beklemtoon die vier belangrikste dinge by kuns: kleur, teksture, lyne en fatsoen. Sy advies is om nie kuns te koop vir die waarde daarvan nie. Kyk liewer na die kleure, lyne, fatsoene en teksture. Hy het abstrakte kuns ook bespreek en beklemtoon dat ‘n mens dieper moet kyk as dit wat jy met die eerste oogopslag sien. Die gehoor het aan sy lippe gehang, veral omdat hy ons laat skaterlag het met grappies tussendeur sy praatjie.
Stephany Stone en Prof. Pierre Volschenk.
V.l.n.r Christina Walters, kunstenaar in die Strand, Leta du Preez, Voorsitter Strand Tak, Professor Pierre Volschenk,bekende kunstenaar wat in die Strand woon, Stephany Stone, kunstenaar van Citrusdal en Hannelie van Tonder.
Gebreide en gehekelde skapies deur lede van Strand Tak gemaak, wat aan ‘n dogtertjie wat kanker gehad het en nou in remissie is, geskenk word. Sy kan hulle nou aan haar maatjies in die hospitaal uitdeel.
Leave A Comment