Tak: Dordrecht – NOK

Studierigting: Landbou en Tuinbou

Aanbieder: Lenie Fourie

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 26 April 2023

Op Woensdag 26 April het die dames weereens ‘n vol en baie interessante program geniet. Lenie Fourie het geopen met ‘n gedeelte uit Ps 84 – oor hoe ons ons bekommer ten spyte van God wat na ons kyk. Onthou: Hy IS in beheer! Anna van Niekerk wys die verskil in prys van ‘n Rooi Rose van 1974 (50c) en 2023 (R60). Dis inflasie! Antoinette van Pletzen deel “Airfryer” wenke uit, asook styl wenke, wat sy op VLVK se webwerf gekry het. Lede deel ook hul eie wenke. Dordrecht tak het ‘n boom geplant vir vanjaar se VLVK-Projek “Plant ‘n Boom vir die Jeug”. Lenie Fourie het dit ter ere van haar dogter se laaste kollegejaar gedoen! Sy het ook vlg jaar se Landboukompetisie bespreek, wat die versiering van ‘n geraamte-kop behels.

Lenie het die bekende boer van Dordrecht, Petrus Schoeman, genooi om oor Plaasveiligheid te kom gesels. Hy vertel o.a. van die maandelikse Rural Safety Vergadering wat hy saam met ander belanghebbendes van Dordrecht hou. Hulle het ook al met die MEC ontmoet – wat baie positief ontvang is. ‘n Verteenwoordiger van die Groen Skerpioene op Queenstown, het ook goeie wenke kom deel. Petrus nooi almal uit om enige probleme aan hom te rapporteer.

 

Petrus Schoeman aan die woord.

Ten opsigte van veiligheid maan Petrus almal om altyd waaksaam en bewus van jou omgewing te wees, bv by ‘n kitsbank. Alarms en veiligheidskameras moet ook tydens kragonderbrekings kan werk. ‘n Groot hond buite en klein hondjie binne is ononderhandelbaar! En as hulle blaf, gebruik jou monitors om te kyk wat buite aangaan – NIE fisies uitgaan nie. Hou jou huis se deure altyd gesluit – veral as jy alleen is. ‘n Bordjie met toegangsbeheer is noodsaaklik by jou plaas/huis se ingang. Sit die boodskap dat toegang voorbehou is met prentjies by – ingeval ‘n betreder nie kan lees nie. So ‘n bordjie kan jou ook beskerm as jy ‘n oortreder skiet, of jou honde iemand byt. Jy mag met jou eggenoot se vuurwapen ‘n aanvaller skiet, maar dan moet so ‘n bordjie in plek wees.

Elke huis moet ‘n veiligheidsplan hê vir ‘n noodsituasie. Net so moet elkeen in die omgewing ook so ‘n gebeurlikheidsplan hê, en elkeen moet weet wat sy buurman se plan behels. Wéét wat om in elke situasie te doen, wie en hoe om te kontak, en doen gereelde radio-kontrole met jou bure. Praat stadig en duidelik op enige radio of telefoon wanneer ‘n misdaad gerapporteer word.  Gee goeie beskrywings. Vuurblussers of selfs ‘n tuinslang in die huis, is baie belangrik. Moenie jou vuurwapen oop en bloot vertoon nie, en wéét hoe om dit te gebruik. Die inwoner binne in die huis moet kan agterkom as die boer/eggenoot buite gyselaar gehou word (‘n kodewoord kan help), en op goeie plek kan wegkruip vanwaar die aanvallers dan geskiet kan word. Skiet gereeld – Jou werkers moet weet dat jy kan raakskiet. Basiese Noodhulpopleiding is ook belangrik, veral vir brand-, steek- en skietwonde.

Laat die polisie weet van enige voorval, en behou bewys van die oproep vir ingeval van ‘n hofsaak. Neem ook ‘n video van die noodsituasie, mét stemopnames, en stoor dit. Moenie dadelik enige verklarings aflê nie, veral as jy ‘n kalmeerpil gedrink het vir die skok. Verklaar op jou video waarom jy nie die verklaring wil aflê nie.

Goeie toesig oor kinders is altyd nodig. Hulle mag geen lekkers van oulike, vriendelike mense aanvaar nie. En glad nie by vreemdelinge se voertuie inklim nie. Wees besonder waaksaam by ‘n verkeerslig. Hou ver van die voertuig voor jou stil, sodat jy kan uitkom en wegjaag as ‘n probleem opduik. Draai betyds om as daar takke of “spikes” in die pad lê. ‘n Bril kan jou oë beskerm teen versplinterende glas in geval van ‘n klipgooiery of geweervuur. EN laaste maar nie die minste nie: Moenie die krag van gebed onderskat nie!

Lenie Fourie demonstreer die versierde geraamtekoppe