Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Ronel Laubscher

Datum: 25 April 2023

 

Gedurende hul Aprilvergadering het die dames van VLV Voëlvlei interessante inligting en goeie raad gekry oor die forensiese verpleging van veral verkragtingslagoffers.

Herma Vosloo, sielkundige en kenner op die gebied, het haar ondervinding op simpatieke wyse aangebied en het die gehoor deurentyd geboei. Elke mens ervaar by tye krisisse en trauma. Wanneer iemand getraumatiseer is deur bv. verkragting en beheer verloor in die proses, is wanneer ondersteuning deur kenners gebied moet word om te probeer om die slagoffer haar beheer terug te laat kry.

Eerstens moet die ondersteuner die nood raaksien, en help deur dάάr te wees en te luister na die slagoffer.

Tweedens moet hulp aangebied word om die slagoffer haar beheer terug te laat kry. Dit is egter ‘n baie lang proses en begin deur net te luister. Daarna kan klein dingetjies beplan word soos om bv saam inkopies te doen, met ander mense te gesels en niks op die persoon af te dwing voor sy nie gereed is daarvoor nie.

Direk nά verkragting moet die hele regsproses verduidelik word sodat die slagoffer weet wat om te verwag. Sy moet bemagtig word, en indien nodig professionele hulp kry.

Emosionele trauma neem tyd om te genees en baie hang af van die ondersteuning wat die persoon kry. Die pad moet saam met die slagoffer geloop word, al neem dit hoe lank. Luister vir enigiets positief uit die gesprekke en bou daarop. Mettertyd kan die slagoffer op daardie manier ‘n oorwinnaar word.

Die dames is ook deur die sameroepers ingelig oor watter margarien die beste is om botter te vervang in gebak; die moets en moenies vir die benadering tot persone met Demensie en Alzheimers; en dames het hul kunsvermoëns getoon deur met klei te wys waarvoor hulle dankbaar is.

Ronel Laubscher, sameroeper vir Kunste en Handvlyt het gesels oor Garden Route Food Pantry se uitstekende nuwe produk, naamlik Food Socks. Met die verkoop van die produk voed hul (Eden Community Hope Outreach) meer as 700 kinders in die Eden distrik. Voëlvlei VLV se opbrengs van hul marktafel het vir hierdie projek gegaan.

Na ‘n gesellige kuier om ‘n koppie tee en verversings is almal beter ingelig huis toe.