Sirkel: SWD

Tak: Klein-Brakrivier

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer:   Lydie Terblanche

Datum: 25 April 2023

Die voordeel van akwaponika stelsels

 Lede van Klein-Brakrivier het ‘n heerlike leersame oggend-uitstappie na Hoërskool Outeniqua geniet om meer oor hul akwaponika-tonnels te leer.  Hoërskool Outeniqua is al meer as ‘n eeu aan die gang en is innoverende baanbrekers en entrepreneurs. Hierdie tonnels onder die leiding van passievolle Landbou Wetenskap onderwyser Cameron Stronach, verskaf aan sy lede noodsaaklike praktiese ervaring (Riaan Truter is die tonnel bestuurder). Cameron saam met ‘n groepie van sy leerders, Dillan Barnard, Lujah Diederiks en Tristan Kitching het verduidelik hoe hierdie projek werk.

Passievolle Cameron Stronach aan die woord

‘n Akwaponiese stelsel benodig min spasie en geen landbougrond nie. Dit is ‘n intensiewe boerdery waar groente digter geplant kan word en ‘n hoër groente opbrengs kan lewer as wat deur grond-verbouing gekry kan word. Die rede hiervoor is dat voedingstowwe direk aan die wortels verskaf word. Dit is voedselproduksie met baie effektiewe waterbenutting omdat water in ‘n geslote sisteem sirkuleer – die naaste wat mens aan droogtebestand kan kom. 

Cameron het verduidelik akwaponika is om met behulp van die hersirkulering van water ‘n gebalanseerde ekosisteem boerdery te skep deur hidroponika (groente kweek sonder grond) en akwakultuur (visboerdery) simbioties te integreer. In kort, die visse verskaf voedingstowwe vir die plante, en die plante suiwer die water vir die visse.

Die drie belangrikste komponente van hierdie stelsel is dus, vis wat ammoniakryke uitskeiding voorsien, bakterieë wat die ammoniak na nitriete en na nitrate verander en dan plante wat nitrate as voeding uit die water opneem en sodoende weer suiwer vir die visse se gebruik.

 Akwaponika is nie net omgewingsvriendelik nie, maar ook volhoubaar en met die min afvalstowwe is dit die toekoms van gesonde voedsel. Cameron vertel dat die voedsel volkome organies produseer (gewaarborg) word, geen gifstowwe vir die plante en geen antibiotika vir die visse nie.

Lindi Liebenberg (Hoërskool Outeniqua – sosiale media) het bygestaan vir bemarkingsdoeleindes en Esrie Loock (Varss) het die Klein-Brakke meer vertel oor die Varss-projek wat in die pyplyn is, en met drinkgoed en heerlike ‘platters’ vol lekkernye bederf.

Van links na regs: Lindi Liebenberg (Hoërskool Outeniqua – sosiale media) Esrie Loock (Varss)

Esrie Loock van Varss het die groep bederf met drinkgoed en bobaas platters

Van links na regs: Dillan Barnard, Lujah Diederiks, Tristan Kitching, Cameron Stronach

Lede van Klein-Brakrivier tak geniet ‘n uitstappie om meer oor akwaponika te leer

   

 Die elemente van die akwaponika stelsel               Lieflike, organies en gesonde produkte

 

 

 

 

 

Cecilia Pieterse (in blou), Landbou sameroeper, is in haar element

Dames luister aandagtig na Cameron Stronach se verduidelikings

Takvoorsitter Lydie Terblanche (in groen), soos gewoonlik met baie handgebare aan die verduidelik