Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger

Datum: 19 April 2023

Lede van VLV Kuruman-tak het op Woensdagmiddag 19 April 2023 by Boa-fé in Kuruman meer oor grimering geleer. Die verrigtinge is deur Janet West met skriflesing en gebed geopen.

Lede van die Leefstyl-groep wat die vergadering aangebied het. Vlnr: Zelda Lombaard (Saamroeper), Arina Beukes (Vise-Voorsitter VLV Kuruman-tak), Sona Uys, Janet Strydom en Janet West (wat die byeenkoms geopen het).

Leandra Rautenbach (regs) het prakties op Zelda Lombaard (Leefstyl Saamroeper) gedemonstreer hoe om eenvoudige dag-grimering te doen deur ‘n oogskadu-palet vir verskeie dele van die gesig te gebruik.

Leandra Rautenbach het vervolgens aan die dames verduidelik hoe maklik dit eintlik is om elke dag mooi te lyk.

Baie mense wil, volgens Leandra, mooi lyk vir ‘n spesiale geleentheid, dan sê hulle, byvoorbeeld: “As ek net eers 10kg verloor, dan sal ek my hare só gaan sny…”

Sy sê dit is nie nodig om te wag nie! Enige haarstyl wat volume rondom jou gesig gee, byvoorbeeld ‘n “bob”, jou gesig breër laat lyk. As jy dus skraler wil lyk, kan jy óf jou hare heelwat korter sny, sodat jy hoogte bo jou kop kan hê, wat jou gesig bietjie “strek”, of jy laat groei jou hare verby sleutelbeen lengte.

Selfs grimering kan jou gesig vetter of maerder laat lyk. Hoe korter jou wenkbroue is, hoe ronder lyk jou gesig. Hoe langer jou wenkbroue, hoe skraler lyk jou gesig. (Maar as jy hier by jou ore trek, moet jy begin stadig!)

Jou onderlaag kan baie “sondes” verbloem, maar moet nooit dink jy gaan wegkom daarmee om geen velsorg te gebruik nie.

Die kleur van jou onderlaag moet 100% pas by die kleur van jou nek, want die geheim van goeie onderlaag is niemand mag weet jy dra onderlaag nie.

‘n Opregte glimlag het baie meer waarde as die duurste lipstiffie, maar as jy jou glimlag wil versier, kies die regte kleur lipstiffie. Hoe donkerder jou lipstiffie, hoe dunner lyk jou lippe – iets waarvoor jy baie versigtig moet wees, hoe ouer jy raak. ‘n Donker lipstiffie is ook geneig om in die lyntjies in te bloei. As jy graag wil hê jou tande moet witter lyk, probeer gerus bloedrooi lippe!

 

Leandra het toe prakties op Zelda Lombaard (Leefstyl Saamroeper) gedemonstreer hoe om eenvoudige dag-grimering te doen deur ‘n oogskadu-palet vir verskeie dele van die gesig te gebruik.

    

Zelda voor, na en gedurende die grimeerproses.

Petro Spangenberg (Kunste & Handvlyt Saamroeper) het tydens dieselfde geleentheid ‘n gedig uit haar eie pen voorgelees:

My Taal

My taal is ‘n ram

Afrikaans is sy naam

Ramkat rampokker

Draadspringer bokker

Rammetjie uitnek, rammetjie rof

Soms ook gruwelik onbeskof.

My taal is ‘n ooi

Sy lê sag en rond

in allemans mond

Sy gee telkens geboorte

Bly stil in haar pyn

maar blaker dit uit

as die eerste son skyn.

My taal sy’s ‘n lam

wat wankel en hunker

Dan opstaan en voortbeur

kopstamp en bokspring

Instink neem oor en

my taal word groot.

So loop ons die pad

Afrikaans in die hart.

 

 

 

Die byeenkoms is afgesluit met Paasfees-lekkernye soos paaseiers en paasbolletjies, aangesien dit die tak se naaste byeenkoms aan Paasfees was.