Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Leefstyl
Datum: 12 April 2023
Beriggewer: Theresa Troskie
Lugbraaier of Waaierbraaier of Airfryer. Wat is dit?
Dit is ’n kombuistoestel wat kos d.m.v. warmlugsirkulasie gaarmaak. Hulle is tegnies ontwerp om die voordele van die konvensionele diepbraaier en die konveksie-oond te kombineer. Dit werk met ’n meganiese waaier wat warm lug binne ’n kookkamer gelykmatig sirkuleer, gewoonlik by ’n temperatuur van 180°C en 200°C.
Lugbraaiers word in drie kategorieë verdeel:
- Statiese lugbraaiers met ’n nie-roterende kookkamer;
- Dinamiese lugbraaiers met ’n roterende kookkamer;
- Halogeenoonde waarin spesiale halogeenlampe as verwarmingselement ingespan word met statiese of dinamiese deursigtige glaskookkamers.
Phillips het die eerste lugbraaiers in 2010 bekendgestel. Die lugbraaier bevat ’n verhittings-element met ’n waaier wat die hitte na die kos toe blaas en die kos dus gaar “blaas”.
Voordele van lugbraaiers:
- ’n Lugbraaier bereik binne 2 tot 5 minute ’n hittegraad van 200° Hy hoef dus nie vooraf opgewarm te word nie. Kos word ook aansienlik vinniger gaar. Dus bespaar die lugbraaier baie krag en is energie-doeltreffend.
- Kos wat in ’n lugbraaier gaargemaak word, is gesonder, want geen olie of botter hoef in die lugbraaier saam met kos gebruik te word nie. Bevrore kos het ook geen olie nodig nie, maar om groente ’n bietjie meer bros te braai, kan dit liggies bespuit word met kanola-, avokado- of olyfolie.
- Die lugbraaier is veilig, want jy werk nie met warm olie of ’n warm oond nie.
- Lugbraaiers word maklik skoongemaak met skottelgoedseep en water. Die meeste lugbraaiers se bakke kan selfs in skottelgoedwassers gewas word.
- Enige gewone oondbak wat in die lugbraaier pas, kan daarin gebruik word.
Alna Theron demonstreer en bespreek verskillende lugbraaiers
Interessant!
- Lugbraaiers gebruik 1200 – 1800 Watt
- ’n Insta Pot gebruik 1000 – 1500 Watt
- Oond van ’n konvensionele stoof gebruik 2500 – 4000 Watt
- ’n Slow Cooker gebruik 600 – 800 Watt
Die tyd wat hierdie verskillende apparate gebruik om kos gaar te maak, moet natuurlik ook in gedagte gehou word as jy aan kragbesparing dink.
Wenke!
- Bepaal jou behoeftes en koop die grootste lugbraaier wat daarvoor geskik is.
- Broodrolletjies, koekies en brood kan baie suksesvol in die lugbraaier gebak word.
- Spinasie, krulkool, rys, pasta of pap kossoorte wat in deeg gedoop is, en drup, moet liefs nie in die lugbraaier gaargemaak word nie.
Stylfoute wat vroue maak (Saamgestel deur 5 voorkomskonsultante.)
Alna Theron bespreek hierdie stylfoute en demonstreer dit met lede in die gehoor se kleredrag:
- Jy koop nie die regte grootte klere nie: Klere wat te groot of te klein is vir jou lyf. Dit gaan nie oor die grootte van die klere nie, eerder oor klere wat jou perfek pas en jou liggaamsvorm die beste laat lyk.
- Jy balanseer nie jou proporsies nie: Niemand lyk goed met ’n lospassende uitrusting van kop tot tone nie. Balanseer jou proporsies deur byvoorbeeld eerder stywe klere bo en los klere onder te dra of andersom.
- Jy neem nie jou stylpersoonlikheid in ag nie: Jy bewonder iemand se styl en wil dit dan ook probeer omdat die persoon mooi lyk, maar jy moet eerder dra dit waarvan jy persoonlik hou, dit wat by jou liggaamsbou, leefstyl en persoonlikheid pas. Dit sal jy met meer selfvertroue dra.
Verskillende style is byvoorbeeld:
- Klassiek – tydlose items in neutrale kleure.
- Elegant – netjies en afgerond, kwaliteit bo kwantiteit;
- Neutraal – geen fieterjasies, bv. plat skoene. Gemak is prioriteit;
- Dramaties – bold klere met uitspattige patrone en dramatiese bykomstighede;
- Vroulik – gemaklik in ’n rok met afrondings van bv. strikke, kant en valle;
- Retro – hou van die modes van die 70’s, 80’s en 90’s;
- Boho – ’n vry gees met boheemse smaak, onkonvensioneel;
- Aanloklik – wil graag uitstaan en spog graag met kurwes, noupassende items en lae halse;
- Kreatief – uitspattig, ’n natuurlike eksentrieke, flair wat lukraak items bymekaarsit en dit laat werk;
- Rocker – swart, swart en swart. Stewels en skinny
Vroue kan ook meer as een persoonlikheidstyl hê. Jy kan bv. elegant sowel as klassiek wees. Soos wat ’n mens ouer word, verander jou stylpersoonlikheid ook soms. Soos wat jou persoonlikheid groei en jy verskeie lewenservarings het, verander jou stylpersoonlikheid ook soms.
4. Jy koop nie kledingstukke volgens jou lyfvorm nie: Jou lyfvorm, bv. peervorm, bepaal die tipe kledingstukke wat jy moet kies.
5 . Jy dra verkeerde skakerings van kleure: verkeerde kleure plaas ’n demper op jou Voorkoms.
6. Jy pas nie klere aan voordat jy dit koop nie: neem tyd en pas verskillende groottes en kleure aan om te sien waarin jy die beste lyk.
7. Jy kies mode bo styl: oor modegiere moet jy jouself afvra of die kledingstuk by jou liggaamsbou, velkleur, ouderdom, leefstyl en jou huidige klerekas pas?
8. Jy dink ’n voorkomskonsultant is te duur en onnodig: ’n besoek aan ’n voorkomskonsultant is die geld oor en oor werd! Hulle som jou vinnig op en gee wonderlike leiding.
Leave A Comment