Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Landbou&Tuinbou
Datum: 28 Maart 2023
Beriggewer: Hermien van Zyl
Fotograaf: Alice van Rooyen
VLV-Kleinmond se Landbou & Tuinbou-vergadering was letterlik vol pitkos en in die gees van landbou met kompetisie-artikels wat ingesluit het vrugterangskikkings, ‘n “Dankgebed ná die oes”, ‘n serp&mus-stel vir ‘n man en ‘n “Portret van ‘n Boer”. Lede het geesdriftig deelgeneem.
Van die pragtige vrugterangskikkings saam met die brei-artikels.
Foto regs: Salomé Malherbe (links), Sonja Viljoen en
Jean Landman (regs) saam met Lynette Loubser, saamroeper.
John Whitehead, boer van die plaas Nuwejaarsrivier buite Kleinmond, was die gasspreker en het onderhoudend vertel van die verbouing van rissies/chillies. Hy plant twee variëteite, Abenero en Jalapeño, op kontrak vir Fynbos Fine Foods in Malmesbury. Hulle verwerk dit en lewer dan 99% in pastavorm vir die uitvoermark. Die ingevoerde saad word vir hom gesaai en hy plant die plantjies in Oktober uit. Dis ‘n arbeidsintensiewe bedryf, maar verskaf werk aan sy arbeidsmag oor die somermaande, want onkruidbeheer moet toegepas word en insekte moet met omgewingsvriendelike olies bespuit word om hulle te beheer. John vertoon van die produkte wat insluit souse, geurselsout en selfs konfyt en die gehoor kry kans om dit te proe.
John Whitehead, spreker, saam met Lynette Loubser, taksaamroeper vir Landbou&Tuinbou.
‘n Verskeidenheid chillie-produkte kon geproe word.
Foto regs: John se ma, Maria Whitehead, die takbeoordelaar (links) saam met sy dogter Daniélle en sy vrou Sharlene
Salomé Malherbe vestig die lede se aandag op die pragtige Maartlelies wat tans oral in Kleinmond blom. Hierdie inheemse familie van die amarillis, ook bekend as die Belladonna-lelie, groei van bolle wat geplant word. Eers verskyn die blomme, dan maak dit saadknoppe en laaste verskyn die blare. Sy deel bolle uit met die versoek dat die ontvangers dit gaan plant.
Salomé Malherbe met die Maartlelies.
Die pragtige inheemse Maartlelies en nerina’s op die verhoog.
Sonja Viljoen lees ‘n vertelling van Chris Barnard voor uit sy bundel Oulap se Blou en Jean Landman kom met wyshede vorendag uit ‘n eksemplaar van ‘n Huis&Haard van 1983!
Alice van Rooyen het verslag gelewer van die pasafgelope Sirkelkonferensie en dit toegelig met ‘n fotoalbum en ‘n uitstalling van lede se naald- en handwerkartikels by die trofeë wat deur die tak verower is.
Louise Bruwer, Alice van Rooyen en Maria Whitehead vertoon trots die trofeë wat Kleinmond tydens die afgelope sirkelkonferensie verower het.
Lynette Loubser het ‘n Witolienhoutboompie, die Boom van die Jaar, oorhandig aan mnr. Raymond van Wyk van Laerskool Kleinmond as deel van die VLVK-projek “Bome vir ons Kinders”.
Raymond van Wyk ontvang die Boom van die Jaar, die Wit-olienhoutboom, van Lynette Loubser.
Heerlike eetgoed is ná die vergadering bedien.
Leave A Comment