Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Ronel Laubscher
Datum: 28 Maart 2023
Tydens Maartmaand se byeenkoms van VLV Voëlvlei in Vleesbaai, is die dames geseën met sang items deur die pragtige en bekende Natasha Joubert. Met haar positiewe gesindheid en uitsonderlike talent het sy die dames net weer herinner aan hoe dankbaar ons moet wees oor elke dag se genade!!
Natasha Joubert
Die hoofspreker van die dag was Dr. Ziva Spannenberg van “One Life Media and Publications.” Sy het met ‘n lieflike aanslag en ‘n bietjie humor aan die dames verduidelik dat elkeen ‘n boek kan skryf!
Sy het die struikelblokke om van groot bekende uitgewers gebruik te maak verduidelik en die dames aangemoedig om kleiner publikasie maatskappye te gebruik. Hierdie maatskappye streef daarna om mense te ondersteun en hul stories en getuienisse te publiseer.
Met heelwat tegniese punte en baie goeie raad, het elke vrou teenwoordig beslis genoeg stof tot nadenke.
Sy verduidelik dat daar ‘n heelword proses in die skryf van jou storie lê. Daarby kan slegs een woord of paragraaf in jou storie, vir iemand anders ‘n inspirasie wees. Ons sien uit daarna om hierdie jaar meer Woordkuns-inskrywings van VLV Voëlvlei te ontvang. En terwyl hul, hul talent onder die maatemmer uithaal, dalk ook ‘n paar boeke!!
Dr Ziva Spannenberg
Tydens die vergadering is diensknopies uitgedeel aan Reeva Pienaar, Dorina van Aardt en Linzetta Smit, elk vir 45 jaar, Chrisilda van Rensburg – 40 jaar, Brenda Human, 20 jaar en Elize Locke vir 15 jaar diens. Baie geluk aan hierdie toegewyde dames!
Diensknopies: Reeva Pienaar, Elize Locke, Dorina van Aardt en Chrisilda van Rensburg
VLV Voëlvlei se Konferensie wenners vir 2023 is ook vereer en gelukgewens. Ada Gericke het ‘n 1ste plek vir SWD Woordkuns behaal asook die mees uitstaande item in die Kuns en Handvlyt afdeling. Anne-Marie van der Merwe het 1ste plek behaal vir haar gebreide stool en Elize Locke 1ste vir Mosaïk hekelwerk.
Konferensie wenners: Ada Gericke, Elize Locke en Anne-Marie vd Merwe
Hierna het Tersia Prinsloo – ‘n lid wat betrokke is by die Gouritsmond/Bitouville naaldwerkgroep – aan die dames meer vertel van hul projek waar hul dames bemagtig en sy het gevra dat die publiek hul sal ondersteun en ‘n platvorm sal skep, om hierdie projek uit te brei.
Tersia Prinsloo
Dit was beslis ‘n opbouende middag en het elke lid geïnspireerd gelaat.
Leave A Comment