Sirkel: Overberg
89ste Konferensie
Beriggewer: Marianna Mostert met dank aan Marmara de Klerk
Datum: 15 Maart 2023
Van regoor die Overberg het dames aangekom by die NG Kerk Caledon Wes in ‘n sagte motreëntjie en in afwagting vir ‘n besonderse dag – die dag het nie teleurgestel nie.
Me. Rienie Lüdick, Sirkel-President open amptelik die Konferensie.
Ds. Awie Brand word aan die woord gestel om die dag op ‘n gepaste manier in te lyf met skriflesing en gebed.
Die sprekers was uitstekend. Die hoofspreker was Mnr. Wicus Pretorius, redakteur van die Tuis tydskrif. Almal het aandagtig geluister na sy aanbieding oor verandering. “Tiktok, facebook en Chatgpt” is aangeraak in sy aanbieding, asook verskeie verwysings na verandering vandag. Hy het ook verwys na “vitamin me” en die begrip “leaning into discomfort”. Hy sluit af met ‘n aanhaling van Tim Du Plessis: “Doen alles moontlik om jou en jou mense veilig, gevoed, geklee en opgevoed te hou”.
Me. Fia Geldenhuys het die lede begelei met die sing van liedere. Sy het ook ‘n pragtige solostuk gelewer.
‘n Groetebrief van die VLVK-president, Me Estelle du Plessis, is voorgelees.
Me. Maria Koeglenberg, vorige burgermeester van Caledon vir 12 jaar, het ook ‘n boodskap gelewer en benadruk dat vroue die hoeksteen is in Suid Afrika, asook dat die lewe soos doringdraad is waaroor jy moet klim om ‘n verandering te maak. Die verandering is nie maklik nie en gaan gepaard met skrape en haakplekke.
Die Sirkel-President, Rienie Lüdick, het voor elke sirkelverslag ‘n toepaslike aanhaling oor verandering gedeel. Met die sirkelverslae se terugvoering was daar interessante aanbiedings en sprekers.
Marianna Mostert (Sameroeper Leefstyl) praat oor die Stylvolle Leefstylvrou en die uitdaging van verandering op haar en haar gesin. “Fast Fashion vs Slow Fashion”. Maak ‘n leefstylkeuse, tydloos oor nuwerwets, kwaliteit oor kwantiteit. Verminder so ons Koolstofvoetspoor. KOOP MINDER, KIES GOED EN LAAT DIT HOU. Beperk kos vermorsing, wat op stortingsterreine beland en metaangas, ‘n kweekhuisgas veroorsaak, deur maaltyd beplanning te doen en aankope daarvolgens te doen.
Corrie Fogwell (Sameroeper Openbare Sake) het die organisasie “A21 – Abolish Slavery” uitgenooi en Katie Modrau, die hoof van die organisasie, het die organisasie bekendgestel.
Mnr Pierre Vlok van BKB was die spreker van Landbou en Tuinbou (Annette van Eeden, die sameroeper). Hy het ongelooflike interessante inligting oor wol oorgedra, onder andere, viool en kitaarsnare van skaapderms, wol vir isolasie in mure, stoele vir die baie belangrike persone in die Britse koninkryk.
Magda Marais (Sameroeper Gesondheid), foto links, het vir Me. Loiusa de Wet as spreker voorgestel. Sy het inligting oor motorneuron siekte oorgedra.
Sharon Bales (Sameroeper Kunste en Handvlyt), inlas foto, het Michelle May-Fourie aan die word gestel. Sy het verduidelik hoe ‘n ou denim langbroek weer nuwe lewe gegee kan word waarna Ronel de Villiers as model opgetree het en haar denim ten toon gestel het.
Me. Rienie Lüdick het haar presidentsverslag gelewer waarin statistieke van die takke in die sirkel voorgehou is. Al die Voorsitters van die verskillende takke is bedank vir hulle insette en ondersteuning aan haar. Daar is ook verjaarsdag gevier met baie mooi “cupcakes” en ‘n glasie vonkel druiwesap – ‘n heildronk is gedrink op die sirkel se 90ste bestaansjaar.
Me. Charlene le Roux het terugvoer gegee oor al die kompetisies wat by die konferensie beoordeel is. Die inskrywings was van baie hoë standaard. Daarwas 17 kompetisies waarvoor lede kon inskryf.
Marianna Mostert het die trofee-oorhandiging gelei en Corrie Fogwell het die trofees oorhandig aan die wenners. 19 Trofees is uitgedeel.
Mees uitstaande artikel in Leefstyl Gebottel, Gebak, Mikrogolf en Lekker Kompetisie:
Blom- Focacia Brood, Hermanus, Magda Marais
Mees uistaande artikel in Leefstyl Handwerk:
Hekelwerk (Mosaiek Tafelloper) Bredasdorp, Anette Fourie
Mees uistaande artikel in Kunste en Handvlyt:
Handvlyt (Dot Paint Art) Bredasdorp Anna- Marie Groenewald.
Die dansgroep, ‘Made to Move’ , wat Suid-Afrika
Mei 2023 by die dans en hip hop
wêreldkampioenskappe in Kroasië gaan v
erteenwoordig se twee jongste deelnemers
het ‘n item gelewer.
Die organisasie van die dag was puik. Die versierings in die saal en gange was baie prakties, effektief en pragtig. Die tafelruikers in broodpanne was besonders. Die verversings met tee was in boksies bedien en was heerlik. Die middagete was iets heel anders. Plankies met kouevleis, brode en groente sosaties was by elke tafel en almal kon aansit en die heerlike eetgoed nuttig. Die nagereg op “platters” is by die tafels bedien – heerlike ‘brownies’, skuimpies, sjokolade, frambose en aarbeie as garnering.
Die dag was moontlik gemaak deur borge wat mildelik bygedra het om die konferensie moontlik te maak, naamlik Overberg Agri, Old Mutual, Stonehouse , Kingswill cheese, Von Geusau Chocolatier, Spar, Dassiesfontein, Gabriëlskloof, Wildekrans, Vilko, John en Karlien Walker. Dit was ‘n baie aangename en onvergeetlike dag en toekomstige konferensies sal verseker bygewoon word.
Leave A Comment