Sirkel: Weskus

90ste Konferensie

Beriggewer: Annette Gilham

Datum: 7 & 8 Maart 2023

Op Dinsdag en Woensdag 7 & 8 Maart 2023, is Sirkel Weskus VLV se 90ste konferensie op Moorreesburg gehou. Aan die stuur van sake was Mev Elsabe Carstens, die nuwe Sirkel President. Hierdie was dan ook haar 1ste konferensie en ‘n vuurdoop in die baie belangrike amp.

         

Die kersseremonie.

Moorreesburgtak het behoorlik uitgehaal en gewys.  Alles was so mooi, goed georganiseerd en het soos ‘n goed geoliede masjien verloop.

Almal teenwoordig was pragtig en stylvol, soos net VLV vrouens kan.

Die etes, happies en geskenke was voortreflik – mooi voorgesit en netjies en flink bedien.

Mev. Elsabe Carstens het verskeie statistieke met almal teenwoordig gedeel:

Die ledetal het gegroei met 79 lede.

Sirkel Weskus het nou 508 lede tussen 14 takke.

118 vergaderings is deur die jaar gehou en bywoning het van 46% na 68% gegroei.

Verskeie sprekers het opgetree:

Die verrigtinge is geopen deur pastoor Gerard le Roux.

Daarna was Mnr Harold Cleophas, Burgemeester van Swartland aan die woord. Hy het erkenning gegee aan alle vrouens en ook die rol wat die VLV in die samelewing speel.

 

 

 

Mnr. Barend Brand het ‘n groeteboodskap van die Swartlandse Boerevereniging oorgedra. Die voorsitter, Mnr Johan Hanekom, kon dit ongelukkig nie bywoon nie.

 

 

 

 

Op ‘n ligter noot het die talentvolle Amelia van der Westhuizen vir ons ‘n mengsel van verskeie liedere gesing.

Die President van VLV-Kaapland, Mev Estelle du Plessis, het ook ‘n bydrae gelewer deur verskillende ooreenkomste en parallelle tussen die VLV en ‘n byekorf en sy inwoners te maak.

Soos die koninginby, moet die voorsitter en presidente van elke tak en sirkel ook gekoester word. Die VLVK se lede is soos die werkerbye.  Hulle bak, brei, hekel en skilder.

Die hommelbye doen niks – hulle moet net met die koningin paar. Soos die bye, is ons lede ook baie sosiaal.  Daar word vergaderings, werkswinkels en inligtingsdae gehou.  Ons dra ook kos aan, ons maak ook skoon en leer bymekaar. Ongeveer een derde van wat ons eet, is te danke aan bye – vrugte, groente en neute. Net soos bye is ons ook goed georganiseerd. Ons werk saam nes hulle – in ons geval aan verskeie projekte.

Ons moet seker maak dat ons diens lewer – in ons land en in ons omgewing.

Daar moet geen grys areas wees nie.  Ons moet by die reëls hou.

Die belangrikste:  GENIET ELKE VERGADERING OF DIT JOU LAASTE EEN IS.

 

 

Francois de Vries het kom gesels oor sy bye besigheid – die voordele en bewaring daarvan. Hy het ook van sy produkte te koop aangebied en mense kon agterna met hom daaroor gesels by sy stalletjie.

 

 

 

The Owl Orphanage van Velddrif se hoof, Jacques Nel, (bygestaan deur sy sekretaresse, Tania Copeland) het ons vertel dat dit vir hulle ‘n groot uitdaging is om so ‘n groot area te dek. Hulle is die enigste organisasie aan die Weskus, vanaf Stellenbosch, Noordkaap, tot sover as Sutherland.  En dis nie net uile wat gered word nie, maar ook ander voëls, bokkies en verskeie diertjies.

Die Sirkel President, Elsabe Carstens, het gevra dat ‘n houer omgestuur word waarin donasies geplaas kan word.  Op die manier is daar meer as R3 400 ingesamel en aan hulle  oorhandig.

 

     

Ds Daniël de Kock, nou van Alexandria gemeente en ook skrywer van vele boeke, was ons hoofspreker. Ook hy het ons tema van 2023 aangeraak – Die Uitdaging van Verandering.

Verandering is vernuwing.

Tradisie is goed, maar let op dat jy nie bang raak vir verandering nie.

Jou angs moenie te veel raak nie en probeer om weg te bly van negatiewe mense.

“Lig jou ken en ken jou Lig”

“Jy is nie wat jy dink jy is nie, jy is wat jy dink”.

“Geluk en positiwiteit kom van binne”

“Maak tyd vir God, jouself en jou medemens”

“Vrees is die pyn van verwagting en verandering”

“Leef met geesdrif en entoesiasme”

“Vergewe jouself”

“Kry nuwe doelwitte”

Hierdie was maar net ‘n paar stellings wat hy gemaak het.  Met sy kwinkslae tussenin kon almal teenwoordig nie genoeg van sy praatjie kry nie – wat ‘n lekkerte!

             

 

Cerina Jansen van Rensburg van Porterville is ‘n lagterapeut.  Baie van ons het nie geweet dat daar so iets bestaan nie, maar so leer ‘n mens. Sy het ons laat skater – sonder om grappe te vertel, simpel te wees of snaakse goed te doen. Sy het ons gewaarsku dat ons maagspiere die volgende dag seer sou wees, en dit was ook so.  Dit was nou die beste terapie wat ons kon kry om so lekker te lag.

Die talentvolle Anita Steyn en Karien Kritzinger het seker gemaak dat die kultuur nie agterweë bly nie en het vir ons verskeie gedramatiseerde voordrag en prosa stukke aangebied.

Die kompetisie artikels in al die afdelings was van uitstaande gehalte en heelwat inskrywings sal vir die VLV-Kaapland Kongres in Augustus in Mosselbaai ingeskryf kan word.

   

              

Na afloop van die afsluitingsverrigtinge kon almal lyf losmaak op maat van die Weskus Kwêla.

Sirkel President sluit finaal af met die Weskus Kwêla       Louwna Hoving geniet die Weskus Kwêla

Lede vorm ‘n sirkel om saam te sing Sal ons ou vriende ooit vergeet

Ons dank ons Liewe Vader vir die suksesvolle dag en dat almal weer veilig by hul bestemmings gearriveer het.

Fotograwe:  Helma van Greunen, Marianna Louw, Nella Louw

Klankoperateur: Jacques Albertyn

Noodhulp: Neville van Rensburg, Hennie van Greunen

Lede sit aandagtig en luister

Leipoldtvilletak saam met die gasspreker

   

Sirkelpresident, Elsabe Carstens, saam met Tania Copeland van The Owl Orphanage in Velddrif en die VLVK-President saam met die wonderlike geskenk van die Die Departement Bosbou

               

Ons man wat kyk dat ons veilig is, Neville van Rensburg geniet dit ook.   Die oulike skoolkinders het ons bedien

Dagbestuur en Sirkelbestuur word bedank deur Annette Gilham

 

 

 

 

 

Die Dagbestuur saam met Mev. Estelle du Plessis VLVK-President

Die nuwe Sirkel Weskus Sirkelbestuur 2023

Die Sirkelpresident en Visepresident geniet ‘n kostelike oomblik van die gasspreker