Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Gesondheid
Datum: 8 Maart 2023
Beriggewer: Theresa Troskie
My reis met kanker:
Juanita Bellingan wat in Murraysburg-distrik boer, het na ongereelde maandstondes geweet dat sy ’n dokter moet besoek. Sy het ’n familiegeskiedenis van kanker en is toe ook op 27-jarige ouderdom met borskanker gediagnoseer. Die kanker was aggressief en daar moes gou gespeel word. In ’n 4 uurlange operasie het sy haar een bors verloor en is daar dadelik voorbereidings getref vir rekonstruksie van die bors.
Na die operasie het sy baie pyn verduur en sy het ook geworstel met die feit dat sy nou vir die volgende 10 jaar verplig was om voorbehoedmiddels te gebruik. Sy het besef dat haar kanse om kinders te kan hê baie skraal was. Sy moes onmiddellik begin met chemoterapie en dis tydens so ’n sessie wat ’n wonderlike dokter oor haar pad gekom het en gemoedsrus gegee het met die woorde: “Here met my … en God se wil is nie ons wil nie.” Dit het haar gerusgestel en rustig gemaak.
Die chemoterapie was ’n nagmerrie, sy kon nie slaap nie en sy kon absoluut niks eet of drink sonder om naar te word nie. Selfs haar eie speeksel het haar naar gemaak! Sy vertel dat wanneer hulle die chemoterapie (oftewel die Rooi Duiwel) in haar are ingespuit het, kon sy dit hier by haar hart voel, sy kon voel hoe haar arms en bene lam word en sy het ’n aaklige smaak in haar mond gekry. Menige dae het sy gevoel asof sy nie verder kan nie, maar dan het sy maar weer haar kop opgelig en voortgestrompel!
Sy was alleen en eensaam, want dit was midde-in die Covid-19 pandemie! Niemand kon saam met haar gaan om haar te ondersteun, te troos of moed in te praat nie!
Juanita Bellingan(links) ‘n jong boer van Murraysburg, wat op Murraysburg gepraat het oor: My reis met kanker. Regs is Murraysburg se saamroeper vir Gesondheid, Maretta Theron.
Juanita Bellingan is ’n dapper, jong vrou wat ’n traumatiese pad gestap het a.g.v. van die Covid-19 pandemie en die feit dat sy nie ’n voldoende mediese fonds gehad het nie, meestal alleen en met die hulp van staatsdokters en staatshospitale moes regkom. Sy het nog nie die einde van haar pad bereik nie, want daar wag nog operasies en behandeling op haar.
Intussen salueer ons haar vir haar moed en geloof wat haar fisies en emosioneel staande laat bly op hierdie moeilike pad!
Water en my liggaam:
- Maretta Theron gee die volgende wenke oor die noodsaaklikheid van water vir ons liggame:
- 75% van ons liggame bestaan uit water en ons moet dit in stand hou.
- Genoeg water help jou liggaam om te detoks.
- Drink water 30 minute voor etes, dit laat jou versadig voel en voorkom dat jy te veel eet en onnodig gewig aansit.
- 2 liter water per dag verhoog jou metabolisme met 30%!
- Drink voorkomend water, want teen die tyd wat jy dors is, is jy klaar byna ontwater.
- Interessante feit: ’n Mens kan 5 dae oorleef sonder water.
- Gebruik liefs ’n glas waterbottel, want baie plastiekbottels stel estrogeen vry.
Voordele van water vir my liggaam:
- Water verlig die las op jou niere;
- Dit bevogtig die weefsel van die oë, mond en neus;
- Dit reguleer jou liggaamstemperatuur;
- Dit beskerm jou organe en weefsel;
- Dit hou jou gewrigte soepel;
- Dit voorkom hardlywigheid;
- Water los voedingstowwe op en stel dit vry aan die liggaam;
- Water vervoer voedingstowwe in ons liggame.
Leave A Comment