Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 21 Februarie 2023
Tydens die Februarie-vergadering van VLV Voëlvlei, is daar op Gesondheid gefokus. Suster Tersia Fourie van Hartenrus Aftreeoord se Versorgingsafdeling het die dames toegespreek, en daar is met groot aandag geluister, want kanker is iets wat elke persoon raak. Elkeen weet van iemand bekend aan hulle wat daaraan ly, of gely het, of het self die pad gestap.
Aangesien Tersia vir jare gewerk het by CANSA, het sy diepgaande kennis oor elke aspek van die siekte. Sy het eerstens verduidelik wat kanker is, en het beklemtoon dat dit geen geslag, ras of ouderdom ontsien nie. Dit is belangrik om te weet dat dit ‘n baie emosionele siekte is. Dit leer ons grense stel omdat mense altyd bang is vir die onbekende.
Dit is belangrik om aandag te gee aan simptome, en tekens. Elke vrou ken haar liggaam en omdat kanker vir tot so lank as 3 tot 5 jaar kan sluimer, is dit van uiterste belang om gereeld vir toetse te gaan.
Die verskillende stadiums van kanker is bespreek, asook die tipes behandeling. Kanker beteken nie noodwendig meer altyd pyn, lyding en die dood nie. ‘n Positiewe gesindheid is ‘n belangrike deel van die behandeling en speel ‘n groot rol in die hele proses.
Dis vir mense na aan pasiënte belangrik om te weet hoe om op te tree in hul teenwoordigheid. Moet byvoorbeeld nooit sê: “Ek bid vir jou” nie. Luister met aandag na wat die pasiënt sê , en vra liewer: “Waarvoor kan ek vir jou bid?”
Tersia het wéér beklemtoon hoe belangrik dit is om elke dag net in die dag te leef. “Live the day!” moet ons almal se motto wees sodat ons elke dag voluit in dankbaarheid kan leef.
Karen Burger van CANSA het ook ‘n interessante uitstalling gehad van handgemaakte produkte wat die lewe vir kankerlyers makliker maak.
Al die dames teenwoordig het die vergadering verlaat met beter begrip en insig oor die gevreesde Groot K.
Tersia Fourie, Hartenrus Aftreeoord
CANSA Uitstalling
Leave A Comment