Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 15 Februarie 2023
Aberdeen VLV se Februarie vergadering vind plaas in die pragtige De Denne Gastehuis op die dorp. Elna van Niekerk open met ‘n stukkie oor hoe ons mekaar kan bemoedig in swaar tye, selfs al is onsself nie perfek nie.
Die finale reëlings rondom Maart se Konferensie word in detail deurgetrap.
Elna van Niekerk, Saamroeper Landbou & Tuinbou, stel Lizzy van der Merwe aan die woord om die uitdagings van herwinning te bespreek. Veral in die platteland is dit ‘n groot uitdaging, aangesien daar hoë kostes verbonde is aan die verwerking en saampersing van verskillende herwinningsmateriaal. Die vervoer daarvan is ook ‘n astronomiese koste, aangesien dit hoë volume en lae gewig is.
Lizzy vertel hoe sy van Gauteng na Aberdeen verhuis het om haar droom van “woon in die Karoo”, uit te leef. Hier het sy besluit om betrokke te raak in die gemeenskap met iets waar daar ‘n leemte is. Die rommel wat oral rondlê het haar inspireer om op herwinning te fokus. Sy begin die Hope Centre en kry vrywilligers om te help. Tans is hulle ingerig vir herwinning en saampersing van plastiek. Daar is ook reeds samewerking tussen die omliggende dorpe in die streek.
Lizzy van der Merwe se droom is om deur die Hope Centre die gemeenskap te bemagtig en te leer om vir hulself te werk. Sy het met ‘n groentetuin by die perseel begin, waar gemeenskapslede betrokke is. Daar is ook inisiatiewe waar persone herwinningsmateriaal gebruik om produkte vir herverkope te maak, bv. motors uit karton en koelersakke uit hondekos-sakke. Sy het selfs ‘n program waar sy kinders wil help om te leer lees. Die grootste uitdaging en struikelblok met die projek is egter finansies.
Starke Ayres het verlede jaar spinasie-, beet- en wortelsaad aan VLV Aberdeen geskenk. Om aan te sluit by die projek, fokus Elna van Niekerk en Elise Steynberg die eetgoed van die dag rondom hierdie groentes, nl. spinasiequiche, beet-, wortelslaai en wortelkoek.
Na afloop van die vergadering word ‘n skenking van vars groentes wat lede gebring het, aan Aalwynhof ouetehuis gegee. Tydens die besoek word daar ook gehekelde sakkies aan inwoners oorhandig. Hierdie sakkies is gehekel deur Elna van Niekerk se 81-jarige Ma, tannie Anna Heroin. Die vreugde wat dit aan haar, sowel as die inwoners bring, is duidelik sigbaar op almal se gesigte! Daar word ook heerlik geselsies uitgeruil. Voorwaar nog ‘n geseënde besoek aan Aalwynhof ouetehuis en ‘n goeie afsluiting vir die dag.
Groentemandjie as tafeldekor
Items gemaak van herwinde materiaal
Vlnr : Lea van der Vyver (VLV Aberdeen Voorsitter), Elna van Niekerk (VLV Saamroeper Landbou & Tuinbou) en Lizzy van der Merwe
Groepsfoto:Vlnr : Lizemari Jordaan, Maryke Lategan, Luise de Jager, Elise Steynberg, Lea van der Vyver, Elna van Niekerk, Karen van Rensburg, Suzanne Lategan, Karin Pienaar, Clarissa Lategan en tannie Anna Herion
Heerlike eetgoed gemaak van die groentes
Gehekelde sakkies gemaak deur tannie Anna Herion Oorhandig gehekelde sakkies aan Aalwynhof inwoners. Vlnr: Anna Heroin by inwoners Gaye Day en Caty Victor
Oorhandig groentes aan Aalwynhof
Vlnr voor: Margriet Gertse, Seroline Jackson en Karen van der Heever
Vlnr agter: Lea van der Vyver (VLV Aberdeen Voorsitter) en Elna van Niekerk (VLV Saamroeper Landbou & Tuinbou)
Leave A Comment