Sirkel: Tygerberg

Tak: Parow

Studierigting: Gesondheid

Beriggewer: Lize Testa

Datum: 2 Februarie 2023

Een oomblik stap jy sitkamer toe, en die volgende oomblik word jy wakker op die vloer met ‘n verblindend liggie in jou oë, terwyl ‘n bekommerde paramedikus jou ondersoek.

Op 2 Februarie 2023, het Danielle Steyn van Titanium Securitas, met die Parow lede kom gesels oor wat om te doen in ‘n noodgeval.  Danielle is ‘n “Emergency Care Practioner” en het haar 4 jaar graad in “Emergency Care” deur CPUT gedoen.

Soos ons ouer word, verander ons liggame en is dit belangrik om beter na onsself te kyk.  Eet gereeld, drink genoeg water en drink jou medikasie soos voorgeskryf.  Maak seker jy weet wat vir jou liggaam normaal is – hetsy dit jou bloedsuiker of bloeddruk is.  Elke mens se normaal verskil effens.

Wanneer jy in die posisie beland om ‘n ambulans te ontbied vir jouself of iemand anders, volg hierdie stappe:

  • Roep dadelik om hulp – dis makliker as daar twee mense op die toneel is.
  • Indien die pasiënt bewusteloos is, draai hom of haar op die sy. Moet egter nie die pasiënt beweeg as daar moontlik ‘n nek-, rug- of kopbesering is nie.

Voor jy die noodlyn skakel, maak seker jy het al die inligting byderhand:

  • Jou naam en van.
  • Jou telefoonnommer, asook die telefoonnommer van ‘n persoon op die toneel, indien jy nie self daar is nie. Dis ongelooflik belangrik om jou nommer te gee – indien die oproep dalk afgesny word of jou lugtyd uitloop stel dit die inbelsentrum in staat om jou terug te skakel.
  • Die adres en area waar die diens benodig word. Inbelsentrums is landwyd, maak seker dat jy die volle adres gee en sê dis in die Kaapstad area.
  • Die ouderdom van die pasiënt.
  • Die geslag van die pasiënt.
  • ‘n Kort beskrywing van waarom die diens benodig word.
  • Meld ook enige spesiale omstandighede om in ag te neem. Gestremde persone, erg oorgewig persone, bedleênde persone, trappe, hysbak, en so voorts.  Dit stel die inbelsentrum in staat om eerder twee sterk mans te stuur as ‘n klein geboude dame.
  • Het die pasiënt ‘n mediese fonds of nie.

Hou die volgende inligting gereed vir die paramedici wanneer hulle op die toneel kom:

  • ID boekie of kaart.
  • Mediese fondskaart.
  • ‘n Lys van die pasiënt se medikasie (of ‘n sakkie met al die medikasie in).
  • ‘n Familielid of vriend se kontakbesonderhede.
  • Mediese geskiedenis.
  • Lys van allergieë.

Mense word ook aangeraai om ‘n “Noodgeval” lys met al hierdie inligting oor hulself, by hulle te dra of in hulle voertuie te sit waar nooddienste maklik toegang tot dit kan verkry.

Parow Vorm Parow Inligting

 

Hierdie vorms is onder “downloads” beskikbaar ons 2023 Parow.

Verder het Danielle ook gesels oor ‘n paar algemene toestande soos beroerte, urienweginfeksies, hoë en lae bloedsuiker en hoë en lae bloeddruk.

Beroertes kan uitgeken word deur die akroniem BE FAST te gebruik: 

Dis ook uiters belangrik om die tyd deur te gee van wanneer die simptome begin het.  Hoe vinniger mens reageer wanneer iemand ‘n beroerte kry, des te beter is die kans om volkome herstel.  Daar word dikwels verwys na die goue uur wanneer dit by beroertes kom.

Urienweginfeksies gaan gewoonlik hand-aan-hand met verkoue- of griepsimptome.  Dit sluit in koors, verwarring, ‘n gevoel van pap wees, geen eetlus en drink min vloeistowwe.  Urienweginfeksies is maklik behandelbaar en koors kan tuis onderbeheer gehou word deur medikasie soos parasetamol te gebruik.

Lae bloedsuiker – Cold and wet, sugar I get.  Die persoon sal gewoonlik koud en klam voel, sweet en bleek wees.  Hy of sy sal ook moeg of geirriteed voorkom.  Lae bloedsuiker kan voorkom word deur gereeld deur die dag te peusel.  Drink ‘n sappie as jy voel jou bloedsuiker raak laag.

Hoë bloedsuiker – Warm and dry, insuline I try.  Die persoon het waarskynlik probleme met sy of haar sig, bly dors, urieneer baie.  Doen ‘n vingerpriktoets om die persoon se suiker te toets.  Indien dit te hoog is, kan hy of sy in n diabetiese koma verval.  Voorkom hoë bloedsuiker deur baie water te drink, ‘n gesonde diëet te volg en medikasie te drink soos dit voorgeskryf is.  Onthou ook dat seerplekke baie lank vat om gesond te word.  Toe skoene word aanbeveel omdat die persone nie maklik pyn voel nie en seerplekke kan kan ly tot gangereen.

Hoë bloeddruk kan simptome soos verlies van sig, sterre sien, hoofpyn, neusbloeding, nekpyn, naarheid, gelui in die ore (tinnitus), moegheid en ‘n vinnige hartklop insluit.  Dis uiters belangrik om nie jou medikasie te mis nie.

Lae bloeddruk sluit simptome soos duiseligheid en ‘n pap gevoel in.  Dit gebeur dikwels dat ‘n persoon van die toilet of stoel af opstaan, duiselig raak en dan val.  Dis die liggaam se manier om homself te reguleer – dit maak die liggaam plat, sodat die hart nie so hard hoef te werk om die bloed oral te kry nie.  Deur gereeld te eet en genoeg vloeistowwe in te neem, sal jou bloeddruk meer stabiel wees.

Jou bloeddruk kan ook gemonitor word deur ‘n bloeddruk apparaat aan te skaaf – beskikbaar by meeste van die groot apteekgroepe.

Vir hartversaking word ligte oefeninge aanbeveel.  Die oefeninge kan so lig wees dat jy dit selfs kan doen terwyl jy by ‘n tafel sit.  Die drukking in die spiere help om die vloeistowwe wat ophoop te beweeg en verlig sodoende die swelling.  Neem ook jou medikasie soos voorgeskryf.

Wanneer jy deur ‘n slang gepik word, is dit belangrik om ‘n foto of beskrywing van die slang te kry.  Moenie probeer om die slang te vang nie.  Dis ook baie belangrik om die area in ag te neem wanneer daar met slang identifikasie gewerk word – nie alle slange kom oral voor nie.  ‘n Goeie slangkenner of slangvanger sal die slang kan identifiseer van ‘n foto of beskrywing af.  Laai dadelik die persoon in jou kar wat gepik is en bel Tygerberg Hospitaal en laat weet hulle dat jy oppad is.  Tygerberg Hospitaal is die enigste plek in die Wes Kaap wat teenstof aanhou.  Selfs wanneer jy na ‘n privaat hospitaal gaan, sal die teengif van Tygerberg Hospitaal af bestel moet word vir jou.

Dit gebeur ook soms dat een van ons geliefdes tuis afsterf.  Danielle het ook die drie stappe om dit te hanteer bespreek:

  • ‘n Ambulansdiens moet steeds gekontak word om die persoon dood te verklaar.
    • Hou die persoon se ID document byderhand.
    • Die ambulansdiens reik dan ‘n brief uit.
  • Die SAPD moet na die toneel ontbied word om te kyk dat die persoon aan natuurlike oorsake oorlede is en reik ook ‘n brief uit.
  • Wanneer jy beide briewe het, kan die begrafnisondernemer in kennis gestel word. Begrafnisondernemers is gewoonlik baie goed georganiseer en sal die gesin deur die res van die stappe neem.

Veranderinge in mens se gesondheid is nie altyd maklik om mee vrede te maak nie, maar met die regte medikasie en ‘n goeie gesindheid kan mens baie oorkom!