Sirkel: Tygerberg
Tak: Kuilsrivier
Studierigting: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Mariëtte Krige
Datum: 1 Februarie 2023
Canola, geskiedenis en gebruike
Woensdag 1 Februarie 2023 het die Kuilsrivier VLV tak ‘n vrolike vegadering gehad. Die jaar is afgeskop met dinge van die HART! Nie net is daar oor Canola gepraat nie, maar is die maand van liefde ingelei met Valentyn-rooi.
Marlene Lotz, paslik in rooi, het geopen met ‘n gepaste stukkie vir die jaar wat voorlê.
Piet Lombard van die Departement Landbou het kom gesels oor Canola, van die begin waar dit ontstaan het as ‘n kruising tussen kopkool en raap, in Canada, tot vandag se produkte wat tans in Suid-Afrika vervaardig word en beskikbaar is.
Canola se naam is afgelei van CANadian Oil Low Acid, dis ‘n wintergewas wat baie goed aard in die Suid- en Wes-Kaap, met die winterreënval en die temperature wat daarmee saamgaan. In 1992 is slegs 400ha aangeplant om navorsing te doen. Die huidige aanplantings is amper al 100 000ha. Die B-Well maatskappy, eg Suid-Afrikaans, is in Swellendam geleë en vervaardig verskeie Canola produkte. Die produksie van Canola saad is so goed gevestig in Suid-Afrika, dat daar oorprodusering is en dat die saad uitgevoer kan word.
Canola is goed vir jou hart, met die hoë omega 3 en 6 wat dit bevat, is dit een van die beste plantgebaseerde produkte wat gebruik kan word. Die kleinste saadjies met die grootste gesondheid!
‘n Groot pluimpie vir Piet Lombard! Soos ‘n goeie boer laat hy hom nie onder kry deur beurtkrag nie. Hy deel die nodige inligting in gedrukte formaat uit. Die skyfie vertoning verander vinnig na ‘n papier-in-die-hand geleentheid!
Piet Lombard word deur Tuala Voster bedank.
Elke vergadering hierdie jaar word ‘n speelse partytjietema gegee. Februarie kan kwalik iets anders wees as Valentyn! Met rooi spatsels oral oor, om die saal op te vrolik en die harte warm te laat klop. Canola en Valentyn is twee gawe maatjies vir mens se hart!
Die lede is vrolik ontvang deur Atella Prinsloo en Carien Pretorius.
Die taklede neem fluks deel aan takkompetisies en items vir die kongres in Maart. Mevrou Ita van der Merwe moes hard werk om die beoordeling te doen. Sy word deur Anette van Aarde bedank.
Die dag is vrolik met eet- en drinkgoed afgesluit.
Leave A Comment