Sirkel: Kalahari

Tak: Vryburg

Studierigting: Gesondheid

Beriggewer: Nellie Viljoen

Datum: 25 Januarie 2023

 

Volgens Mariaan Pretorius, verpleegkundige verbonde aan Rusoord, is demensie die verlies van breinfunksionering wat taal, oordeel en vermoëns aantas. Dit is nie geneesbaar nie en die brein word mettertyd net meer aangetas. Dié agteruitgang tas die persoon se oordeelsvermoë en optrede aan tot hy/sy nie meer kan onthou, redeneer of ‘n normale lewe kan lei nie.

 

Vroeë diagnose sal die pasiënt en familie help om te beplan vir die toekoms. Dit begin geleidelik en die persoon is dikwels verward en gedisoriënteerd. Dit is belangrik dat ‘n volledige mediese ondersoek gedoen moet word. Tekens is spraakprobleme, loop moeilik, verdwaal maklik, kan nie eenvoudige vrae beantwoord nie, kan nie besluite neem of eenvoudige take verrig nie. Hulle voel angstig en bekommerd en kan nie na hulself omsien nie. Vir kort tye kan hulle egter normaal praat en optree.

 

Tekens en simptome en die verloop van die siekte verskil van persoon tot persoon. Elkeen is uniek en sal verskillende behoeftes hê. Pasiënte loop ‘n groter risiko om mishandel te word, aangesien hulle nie insidente kan onthou of in staat is om enigiemand te vertel nie, hulle word nie geglo of verstaan nie.

 

Kommunikasie met ‘n pasiënt kan soms frustrerend wees. Gee net een instruksie op ‘n slag, dit moet fokus op die hier en nou. Opdragte maak hulle soms aggressief en hulle sal die versorger teëgaan. Volg liefs ‘n sagte benadering.

 

Geheueversteurings veroorsaak dat hulle dikwels nie onlangse gesprekke kan onthou nie. Dikwels word gedagtes en vrae oor en oor herhaal. Vrae het te doen met wie hulle is, waar hulle is of waar hulle sal eet of slaap. Moet nooit sê: “Ek het jou nou net gesê!” dit maak hulle senuagtig, bekommmerd en bang. Wees rustig en vriendelik.

 

Sorg vir ‘n veilige omgewing want demensie affekteer die geheue en hulle kan nie altyd onderskei tussen reg en verkeerd nie. Sluit alle medikasie en skoonmaakmiddels toe.

 

Baie mense met demensie word verwaarloos deur hul kinders of versorgers. Dit is moeilik om iemand met demensie te versorg. Versorgers ondervind soms depressie as gevolg van die stres wat op hulle geplaas word.

 

Ouderdom veroorsaak veranderinge in sig, gehoor, spiersterkte en reflekse. Bejaardes beweeg stadiger en kan maklik val oor los matte. Moenie meubels rondskuif nie, dit veroorsaak verwarring.

Moedig die persoon aan om ‘n kierie of loopraam te gebruik. Sorg dat daar snags genoeg lig in die kamer is. Laat persoon stadig opstaan om duiseligheid te voorkom.

 

Mense met demensie het nodig om aanvaar en gewaardeer te word en te voel dat hulle ‘n doel het. Hulle het die reg tot ‘n betekenisvolle bestaan, ten spyte van hul siekte. Elkeen is uniek deur God geskape. Laat ons mekaar bystaan, liefhê en vir mekaar bid.

 

Die lewe is kort, leef dit.

Liefde is mooi, voel dit.

Kwaadwees is lelik, los dit.

Probleme is tydelik, aanvaar dit.

Herinnneringe is vir altyd, bewaar dit.

En jy is kosbaar, onthou dit.

 Mariaan Pretorius en Carien van Niekerk

 

Foto DSCo1705: VLV lede het vroetelmoue vir persone met Alzheimers gemaak