Sirkel:             SWD

Tak:                 Voëlvlei

Portefeulje:    Landbou & Tuinbou

Beriggewer:   Ada Gericke/Johlene Muller

Datum:           24 Januarie 2023

Tuinmaak in potte: VLV Voëlvlei leer hoe.

VLV Voëlvlei het die jaar groen afgeskop met ‘n besoek aan die Danabaai Kwekery. Johlene Muller, sameroeper vir Landbou en Tuinbou, het 5 interessante wenke van JJ van Rensburg oor die plant van bome in jou tuin, voorgehou.  Dis belangrik om bome te plant wat nie te hoog is nie, wat nie groot wortelstelsels het nie, nie te digte blare het nie, nie by ‘n swembad geplant word nie en daar moet ook opgepas word om bome met blomme te plant.

D’atana Fry, eienaar van die kwekery, het baie praktiese wenke en interessante inligting gegee oor suksesvolle plante in potte. Eerstens is die grond in die potte belangrik. Potgrond behoort met tuingrond gemeng te word om te voorkom dat water regdeur die pot loop. Klein klippies onder in die pot verstop die gaatjies en moet liefs vermy word. Die grootte van die potte in die tuin moet in gedate gehou word om te pas by die plante daarin asook vir die voorkoms en uitleg van die tuin. Potte behoort ook eenders geverf te word en wel met dakverf, want dit dop nie af nie en hou lank.

Allerlei middels vir die voorkoming van luise, swamme, wurms en ander insekte is aanbeveel.  Voedingstowwe wat veral belangrik is vir plante in potte, is ook behandel deur die kenner. Dieselfde soort plante moet ook nie jaar na jaar in dieselfde pot geplant word nie, behalwe as die grond elke keer vervang word.

Die dames is ook ingelig oor watter plante suksesvol in potte gedy, asook dié wat nie in potte aard nie.

Die middag is afgesluit met aangename tee, koffie en skons, terwyl die dames in die kwekery kon rondkyk en plante aankoop.

VLV Voëlvlei se lede is begeesterd terug huis toe met allerhande planne vir ‘n groen 2023.

 

D’atana Fry van Danabaai Kwekery