Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Datum: 19 November 2022

Beriggewer: Theresa Troskie

 

Murraysburg se 90ste verjaarsdagviering was voorwaar ’n feestelike geleentheid!

Renée Swanepoel het ’n heildronk op ons tak ingestel met die woorde van Jaco van den Berg, voorsitter van Murraysburg Distrikslandbouvereniging:  “Die Murraysburg Landbouvereniging wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die Vroue-Landbouvereniging van Murraysburg geluk te wens met hulle 90ste bestaansjaar.  Die VLV het in hierdie tyd diep spore getrap in die gemeenskap en as lede van die Landbouvereniging bedank ons elke VLV lid vir hulle onbaatsugtige diens en ondersteuning.  Niks is meer indrukwekkend as ’n vrou wat vas staan in die unieke manier waarop God haar geskape het nie – Simone Trollip.”

Johanna van der Merwe het die takgeskiedenis interessant en kernagtig saamgevat en hoogtepunte uitgelig.  By die voorlees hiervan, was van die jonger dames so beïndruk met alles wat deur die jare deur hul voorsate vermag is, dat 5 jong vroue terstond by ons aangesluit het as lede!

Die verjaaradagkoek is deur Dorees Pienaar gesny.  Sy is vanjaar al 63 jaar lank ’n lid.

 

Ons gasspreker, die pretprater Elsabé Aldrich, het ’n opgewekte motiveringstoespraak gelewer. Met haar geestigheid het sy haar gehoor dikwels uit hul mae laat lag!   Sy eindig op ’n ernstiger noot om ons in die regte gees vir Kersfees te bring.

Soos dit VLV vroue betaam het ons ’n heerlike buffetete voorgesit vir almal om te geniet.

Intussen is daar flink handel gedryf by die stalletjies van ons jaarlikse Kersmark.