Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger

Datum: 10 November 2022

 

Die opwinding het behoorlik GEBRUIS in VLV Kuruman-tak, toe Plaaslike Verspreider van Bruis – Afrikaanse tydskrif, Sandra Scholtz (middel) op Donderdag 10 November 2022 met enkele bestuurslede van VLV Kuruman-tak ontmoet het.

Vlnr: Alta Roets (Saamroeper: Gesondheid), Marianne Vorster (Voorsitter: VLV Kuruman-tak), Petro Spangenberg (Saamroeper: Kunste & Handvlyt), Lillie-Almaé Krüger (Jongste Volgende Voetspore-lid) en Hettie du Plessis-Krüger (Mediaskakelbeampte).

Sandra, wat familie van Bruis se redakteur, Trudie Myburgh, is, was voorheen self ‘n lid van die VLV Kuruman-tak en het ‘n paar spreekwoordelike toutjies getrek om te verseker dat lede van VLV Sirkel Kalahari, op verskeie geleenthede in die nabye toekoms, met vorige, onverkoopte, uitgawes van dié besonderse tydskrif bederf word!

Net soos die VLV, dek Bruis baie onderwerpe of sogenaamde studierigtings. Volgens hul webwerf (www.bruis.co.za), is Bruis ’n inspirerende leefstyltydskrif vir 50-plussers. Dit bied ondersteuning, raad en inligting aan mans en vroue ouer as 50 ‒ van aktuele en suksesstories oor bekendes en minder bekendes tot gesondheidskwessies, aftrede, geldsake, resepte en verhoudings.

Miché Saaijman (veel jonger as 50) het die volgende oor die tydskrif te sê: “Weet jy ek het een dag in Pick ‘n Pay gestaan, lus om ‘n tydskrif te koop (ek dink daai tyd was Rooi Rose nog gesluit), en elke ander tydskrif was hierdie snert van nog ‘n Hollywood celeb se custody battle en egskeiding, of die nuutste dieetmodes of die nuutste seisoen handsakke of hoe om ‘n beter ma en ‘n beter lover te wees. En daai dag was Bruis met Amoré Bekker voorop, die enigste een wat ‘n inspirerende voorblad gehad het. Ek wou lees van Amoré se vuurvreter persoonlikheid en dit het dadelik vir my gewys waarvoor die tydskrif staan. Hulle het my daai dag opgelig. En toe stuur ek dit vir Ouma Anna in Olifantshoek saam met haar pakkie. Dit is ‘n tydskrif wat elke generasie kan inspireer. Elke vrou wat dieper leef as haar onderlaag en rokgrootte, kan by hierdie tydskrif aanklank vind.”

VLV Kuruman-tak is dankbaar vir hierdie wonderlike skenking en sien uit om die impak te sien wat die tydskrif in die Kalahari-sirkel én die land maak!