Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Takuitstappie

Datum: 25 Oktober 2022

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Ter afsluiting van die VLVK-projek, “Bewaar ons Erfenis”, het 12 lede van VLV-Kleinmond die museum op Genadendal gaan besoek. Dr Isaac Balie, die afgetrede kurator van die museum en ‘n trotse Khoi-afstammeling, het op die kerkplein in die skadu van akkerbome, sommige tussen 200 – 400 jaar oud, die dames deur die geskiedenis van hierdie oudste sendingstasie op die kontinent van Afrika gevat. Gereken as die mees outentieke kerkplein in die land, is al die geboue daar rondom reeds in 1980 tot nasionale monumente verklaar. Uit die 1790’s dateer die eerste kerk met sy staanklok, die watergedrewe koringmeul en die eerste sendelinge se huise. Die groot ontwikkeling en vooruitgang was in die 1800’s met die oprigting van ‘n leerlooiery, drukkery, skoolgeboue, die eerste onderwyserskollege in Suid-Afrika, ‘n pastorie en die groot kerk. Uitstekend in stand gehou, huisves dit vandag gastehuise, konferensiegeriewe, ‘n restourant en bakkery, ‘n teekamer en toeristesentrum waar inligting bekom kan word en aankope gedoen kan word – as ‘n mens gelukkig is, selfs van die bekende Herrnhütter-messe wat spesiaal vir Erfenisdag gemaak word, heuningbostee en gemaalde koringmeel. Dr Balie se pragboek oor Genadendal is ook daar te koop.

Georg Schmidt van die Morawiese Sendinggenootskap in Duitsland begin werk in 1738 hier op Genadendal aan die voet van die Riviersonderendberge onder die Khoi-stamme van die omgewing. Die voertaal was Nederlands aangesien die Khoi reeds deur ruilhandel met die koloniste daarin gekommunikeer het. Sy werk word deur sy opvolgers voortgesit en hier word in die volgende een en ‘n half eeu pionierswerk gedoen op die terreine van onderrig en opleiding, musiek, drukwerk, meubelmakery en ander ambagte. Vandag word van die artikels wat hier vervaardig en gebruik is, in 25 uitstalvertrekke ten toon gestel, en was die tyd wat die dames vir hulself toegelaat het, hopeloos te min om alles met die nodige aandag te besigtig.

Die nabygeleë Greyton met interessante winkeltjies, ‘n verskeidenheid eetplekke en pragtige gerestoureerde huisies het egter op die dames gewag, asook ‘n besoek aan Ouplaas, die Walkerfamilie se gemengde boerdery buite die dorp. Benewens vrugte en graan, bedryf hulle ‘n enorme melkery waar onder andere 60 koeie per keer op ‘n roterende ronde staalbasis gemelk word. Die algehele netheid en higiëne van die werkers en melkstal het die dames opgeval, asook die logistiek om ‘n onderneming van dié omvang te bedryf.

 

 

 

 

 

 

Die kerkklok wat dateer uit 1798.

 

 

 

 

 

 

 

Die pragtige kerkgebou van 1891.

Dr Balie, in die middelste ry, saam met die VLV-groep.

 

 

 

V.l.n.r. luister Daphne Loots, Marianne de Wet en Susan Winterbach na die gids.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Maria Whitehead verwonder haar aan die dik mure in een van die slaapkamers.

Pragtige kantwerk wat vroeër daar gemaak is.

Een van die gerestoureerde werkershuisies in skilderagtige Greyton.

 

 

 

 

Martie de Witt geniet sjokolade springrolls tydens middagete by Ambiance.

Die uitsig op die Riviersonderendberge vanaf Ouplaas se werf.

 

 

 

 

Uit die beheerkamer kon die VLV-groep die melkstal in perspektief sien.