Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum: 4 Oktober 2022

 

Sorbellosteek is vernoem na ‘n dorpie in Napels.  Dit is maar telwerk wat jy op ewedraad tel en waar jou inslagdrade eweredig is.

Vryehand – Marie Spamer se klokkestrook in Sorbello-steek van Waenhuiskrans se huise is uitgestal as voorbeeld hiervan.  Borduurwerk vat lank.  As jy vir die VLV items maak moet jy eerste met jou borduurwerk begin.  Jy kan tot 6 maande daaraan werk.  Maak wat jy wil hê en kan gebruik, nie noodwendig ‘n klokkestrook nie.  Borduur wat jy kan raam.

Enigiets wat vir kruissteek sal werk sal vir sorbello werk want dit is telwerk.  Dalene Lindenberg het onlangs begin borduur. Sy gebruik ‘n geometriese ontwerp.  Haar lap is ligpienk en haar borduurwerk is skakerings van grys.  Dit is nie vryehand nie.  Madelé Burger s’n daarenteen is vryehand, vrolik, baie kleurvol en báie besig soos sy!  Stroke wat weerskante van die werklap gestik is, beskerm hulle lap en is gerieflik vir spanwerk.  Die borduurlap moet so styf soos ‘n tamboeryn gespan word.  Dit moet klink soos ‘n drommetjie as jy daarop slaan.  Dít is die geheim om stekespanning eweredig te kry.

Sorbello is nie die maklikste steek om te bemeester nie, want jy moet onthou daar is ‘n hele paar stappe.  Eers die dwarsbalkie, dan gaan jy skuins ondertoe, dan twee tot drie komberssteke binne die boonste balkie.  Jou eerste geheim is jou boonste balkie móét styf wees.  Jou tweede geheim is, jou komberssteek moenie styf wees nie.  Die goue reël is jy doen die boonste balkie, jy sit jou naald in, jy vat met een hand die draadjie, jy trek dit styf oor die naald en dan doen jy jou komberssteke.  Borduur is nie moeilik nie.  ‘n Mens moet net besluit of jy wil borduur of nie.

“Dit is my passie om mense te leer borduur”, sê Erna Visser, wat in die nabye toekoms Kleinbaai toe trek!  Erna kén haar storie want sy het haar Springbokkleure in borduurwerk.  Wat ‘n voorreg om by haar te leer borduur.