Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 27 September 2022

 Heuning om die mond smeer!

 

 

 

Reeds met die aanvang van die Landbou & Tuinbouvergadering het die VLV-lede van Kleinmond geweet die middag se tema het iets met heuning te doen. Essie Groenewald het heel gepas geopen met twee gedeeltes uit Spreuke waar die wyse Salomo ons aanmoedig om liewer woorde so soet soos heuning te uiter.

 

 

 

Essie Groenewald het die paslike opening waargeneem.

 

 

Gys Boonzaaier, op Kleinmond bekend as The Bee Master, het op ’n baie gemaklike manier met die lede en gaste gepraat oor sy passie vir byeboerdery. Aangetrek in sy skoonste oorpak waarmee hy bye werk, het hy die lede en gaste vertel watter blink toekoms hy vir die bedryf sien omdat die aanvraag in die landboubedryf groot is vir die uitsit van byekorwe vir bestuiwing van gewasse – 70% van alle vrugte- en groentegewasse moet bestuif word om te kan produseer. Soos die seisoene wissel, word die korwe verskuif van bv. ‘n canolaland na vrugteboorde vol bloeisels. Korwe word ook in fynbos geplaas, want dis die gesogste heuning, maar gevare soos ratels wat die korwe omstamp op soek na jongbye of die onlangse brand in die omliggende berge, spel gevaar. Hy het 76 korwe met swerms en al in die brand verloor.

 

 

 

 

 

 

Saamroeper vir Landbou&Tuinbou, Anne Meershoek saam met Gys Boonzaaier.

 

 

Boonzaaier verduidelik die werking en struktuur in ‘n korf, die rol van die koninginby, die hommelbye en die werkerbye. Hy  wys die roker waarin hy rooibos brand om die bye te kalmeer en die heuningkas met sy uithaalpanele. Die Kaapse bye is nie so aggressief soos die bye wat in Gauteng voorkom nie, “maar as ‘n by jou steek, soek liewer dadelik mediese hulp, want dit kan dodelik wees” is Boonzaaier se raad aan die gehoor.

Gys Boonzaaier verduidelik hoe die panele met die heuningkoeke lyk.

Vrae uit die gehoor is beantwoord en Boonzaaier raai die lede aan om 100% rou Suid-Afrikaanse heuning te koop. Jy kry eintlik die beste heuning uit ‘n area by padstalle, want dis gewoonlik die plaaslike byeboere se suiwer produk. “Wees maar versigtig vir dié wat sê Product of South Africa and/or Argentina and/or China, al staan dit by Woollies op die rak!” reken Boonzaaier.

Weens hulle gewildheid het die Cantaré-Mannekoor van Kleinmond wéér by die vergadering opgetree, maar dié keer met VLV-lid Mari de Beer as solis. Tot hulle vreugde is elke lid van die koor op tipiese gul boeremanier bedank met ‘n sakkie groente of vrugte! En vir elke lid was daar ‘n appel om ná die gesellige teedrink, saam te neem huis toe.

Die Mannekoor saam met saamroeper Anne Meershoek, middel, en solis Mari de Beer, tweede  van regs

Ferdinand Maree, afgetrede boer, sit handjie by om sy vrou Freda en saamroeper Anne Meershoek te help met die uitstalling van plaasprodukte voor op die verhoog – daar was enigiets van waterblommetjies tot canola in die blom!!

 

 

 

 

Waterblommetjies

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die beoordeling van die kompetisie-artikels is gedoen deur Dorothy Krige van Hermanus (vroeër Worcestersirkel). Hier staan sy links saam met Malinda Hugo (middel) en Alice van Rooyen, Kleinmondtak se mediapersoon – gewoonlik ágter die kamera!

Annie Jooste, vise-voorsitter en takbeoordelaar van VLV-Kleinmond (links) saam met Dorothy Krige (middel) en Hermien van Zyl, Leefstyl-saamroeper.

Louise Bruwer, Kleinmond-takvoorsitter (links) en Hermien van Zyl, taksekretaresse.

 

 

 

 

Boeregasvryheid by die teetafel!!