Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp / Kleinmond
Studierigting: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 23 September 2022
“Sing jy in die Mannekoor?”
Die fors man het aan die kop van die tafel reg langs die Cantare Mannekoor van Kleinmond gesit met soortgelyke klere aan en -soos gewoonlik- het ek my instink gevolg en -soos soms- my voet daarin gesit. Ek het hom gevra of hy deel was van die mannekoor en sy vriendelike reaksie was bloot, “nee”. Wat hy nie gesê het nie, is dat hy die persoon is wat die blomme kom demonstreer nie!
Daphne Loots het tydens die High Tea wat VLV Kleinmond op Vrydag, 23 September 2022 in die N.G.Kerksaal aangebied het, vir Kobus Conradie soos volg voorgestel:
Hy is hoof van die Onderwyspaneel Wes-Kaap se assosiasie blommekuns.
Hy is ‘n Internasionale beoordelaar.
Hy het 2de en 3de plek by ‘Floral art and re imagine’ behaal waar 8 lande deelgeneem het. Hy was ook 1ste en derde in ‘n internasionale skou. Hy gee opleiding aan blommerangskikkerstudente vir ‘n nasionale ontwerpersdiploma.
Kobus se reaksie hierop was: “Daar is niks vir my beter as iemand wat wil leer nie.”
Daphne het bygevoeg dat hy ook ‘n haarstilis by Cutting Edge is. Hy skakel in by WAFA World Association of Floral Artists, ‘n vereniging waaraan 32 lande behoort. Hy is ook lid van SAFU (Suid-Afrikaanse Flora Unie).
Tydens sy demonstrasie van oorheersend tafelrangskikkings deel Conradie die volgende:
Vanaf 20 – 30 Oktober is hy (en ook die VLV) deel van die Stellenbosch kunstefees. Hy bied by hierdie geleentheid ‘n werkswinkel (bridal workshop) in die Stellenbosch stadsaal aan. Daar is ook ‘n kompetisie van rangskikkings in die stadsaal waarvoor vooraf registrasie en betaling vereis word. (Hy het registrasiepapiere by hom gehad om uit te deel). By hierdie Stellenbosch-geleentheid kan ope tuine besoek word en daar is ook
okkasies wat jy kan bywoon.
Kobus demonstreer ses rangskikkings in porseleinpotte aangesien die High Tea oorvleuel met die plaaslike Keramiek en Porseleinfees.
Hy sê jy moet vooraf besluite neem oor aspekte soos die klem op vorm, tekstuur en spasie…jou lyn!
Rangskikkings het baie verander, blomme word nie meer met afwisseling eweredig in die houer versprei nie – dis bitterlik outyds om dit so te doen. Jammer! Maak liewer groeperings van blomme.
Blomme moenie té na aan mekaar wees nie, ” always leave space for the butterflies”. Dit is iets wat hy by Natal se rangskikkers geleer het.
Die volgende 6 kunsbeginsels geld vir verskeie kunsvorme en ook vir die rangskikking van blomme:
1. Lyn.
2. Vorm
3. Patroon.
4. Spasie.
5. Tekstuur.
6. Kleur.
Hoe meer tekstuurverskille hoe beter lyk dit, en weereens, groepering lyk baie beter as ‘n rond en bont storie.
Lyne verterk; kleur beklemtoon. Daar is 17 of 18 aanvaarbare kleurkombinasies. (Direk-/split-komplimentêr ens.)
Een lid in die gehoor het spontaan opgestaan en gesê: “Ek is baie trots op Kobus. Hy het die hele Engelse leerplan vertaal in Afrikaans sodat Afrikaanse mense dit ook verstaan. Hy het nagte deurgewerk”.
Kobus se reaksie hierop was dat mense modules bo lesplanne verkies, so dit móés vertaal word. Te oordeel aan die resultate in die groep ná die vertaling, was dit die moeite werd!
Kobus self het 15 tot 20 kursusse gedoen uit slegs 1 handboek met 54 bladsye! Dit is heeltemal verkeerd. Hy het die opleidingsproses met moeite vernuwe.
Die beginsel waarop jy werk as jy kunsmatige items by jou rangskikking inwerk, is dat die plantmateriaal ten minste 60% van jou ruiker moet wees om as ‘n natuurlike ruiker te kwalifiseer.
Leave A Comment