Sirkel: Tygerberg

Tak: Goodwood

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Alet Colyn

Datum: 20 September 2022

 

Lyntjie Jaars van Oppistoep – faam was die spreker.  Sy het ons eintlik “vermaak” met al haar interessante stories, en die manier waarop sy dinge vertel, het ons laat skater.  Staaltjies uit haar eie lewe het aan die oggend baie kleur verleen en sy bemeester die kuns van selfspot uitstekend.  Volgens haar het Suid – Afrikaners ‘n “lang tong” en dit is ‘n feit dat kultuur mense bymekaar bring.  Ons moet “lekker” met mekaar wees en mekaar met liefde “fix”.  Saam bestaan ons soos ‘n Namakwalandse lappieskombers.

 

 

 

 

 

Bes van Zyl, Lyntjie Jaars (spreker) en Mara Binedel (sameroeper).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die sameroeper het ‘n Karoo-tema vir die oggend gekies.

 

 

 

 

 

 

 

 

Mara het die oggend met ” ‘n Ode aan haar Broer”, wat sy self geskryf het, geopen.

Vir my liefbroer.

Ek’t na sewe jaar weer my ou dorp binnegery en my hart het ‘n paar maal gebreek. Met die oor- die- drumpel- trap in my liefbroer se huis en hy’s nie meer daar nie, met die laaste groet in sy geliefde rolbalsaal en sy wegbêre in die herinneringsmuur.  En om my dorp se verval te aanskou. My dorp het vir my ‘n vreemdeling geword.  Die Adelphi kafee en bioskoop waar ons Saterdagmiddag se vertoning van Doris Day se Pillow talk en Elvis se Blue Hawaii gaan kyk het, het in ‘n Chinese “bargain store” verander. En die aristokratiese Astoria hotel is vervalle en die verf is afgedop. Ou Ahmed van Ahmed broers met sy fessie op sy kop, wag ons nie meer op sy stoel met ‘n glimlag in en vra: “hoe gaan dit met mister Maritz?” nie.  Ons ma en pa se huis is onherkenbaar, weliswaar netjies, maar met lemmetjiesdraad toegespan.  Ek soek na die soel geur van ma se pers filette, die hoogstoel goudgeel leeubekkies en die tuinhekkie wat met sy bekende skree van ‘n lewe se oop en toemaak, se lag en trane vertel. Ek soek die kombuis se sifdeur met pa se hout garetolletjie wat as handvatsel gedien het. Die reuk van roosterkoek uit ma se Jewel koolstoof met sagte vet en ‘n strooiseltjie suiker oor.  Maar daar’s tog iets wat bly. Als is nie verlore nie. Ons klim Koeëlkop uit met klein Ben op oupa se skouers en verlustig ons aan die malsheid van die veld na die reëns, ry na Masolkakop se oorvol dam en na Brinkie se tuin waar ek saam met my liefbroer bakhand water by die windpomp gedrink het. Ons loop op die dorpsdam se wal en kyk hoe die son agter die Karookoppe wegsak. My seuns trap ‘n droë bos plat en braai vir my ‘n asworsie.  En ek ervaar opregte Karoo gasvryheid. Ek breek ‘n granaat in my liefbroer se tuin oop, die robynrooi pitte deur ‘n Meesterhand ingeleg. En die leegtes golf weer van pienk en pers vygiebos en die skaars wit Bakoorjakkalsie kom groet die dag. En van die groen glasskerwe wat ek op ‘n ashoop optel maak ek ‘n sonvanger waarin die genade en goedheid van die Karoo vasgevang is. En van kosbare herinneringe. Vir altyd.

18 September 2022