Sirkel: NOK
Tak: Dordrecht
Studierigting: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Antoinette van Pletzen
Datum: 21 September 2022
Op Woens 21 September het Frans van den Berg, afgetrede skoolhoof van Barkly-Oos, kom vertel van sy Bye-boerdery. Hy het eers van sy seun se interessante werk as Saturasie-duiker in die Midde-Ooste vertel. Daarna van die sementkorwe wat Frans maak. Dis baie swaar en brandbestand, en te swaar om gesteel of gevandaliseer te word. Dit kan ook nie vergaan soos houtkorwe nie. Koste ± R2000 elk. Byeboerdery is ‘n langtermyn-projek –
Werkerbye leef net ‘n maand – hulle werk hulself dood. Hommelbye is groter as die werkerbye, en is mannetjies wie se enigste doel is om die koningin te bevrug. Hulle maak ook ‘n eiesoortige geluid. Die koningin word groot a.g.v. koninginjellie wat vir haar gevoer word. Sy leef ongeveer 5 jaar en lê tot 2000 eiers per dag. Ou koninginne word deur jonger koninginne uitgestoot, maar soms “swerm sy af” om ‘n nuwe swerm te vorm, met minimum 15 000 jong bye.
Daar is ongeveer 55 000 bye in ‘n sterk korf. Hulle soek kos tot 6 km vanaf die korf, en kan tot 15 km trek na ‘n nuwe tuiste. As hulle nie genoeg kos kry nie, speen hulle die koningin vir ‘n paar dae, en trek dan weg. Vyande sluit in gif (selfs net die reuk kan hulle doodmaak); en mense/diere wat bye se wintervoorraad heuning verwyder. ‘n Korf se temperatuur moet 39 ° bly, waarmee die bye se vlerkies help.
Om heuning uit te haal, moet jy ‘n roker gebruik, en opsioneel ‘n spesiale uitrusting wat jou hele lyf beskerm. Moenie al die heuning uit ‘n korf haal nie. Los genoeg as voedsel vir die bye gedurende die wintermaande. 7 kg heuning maak 1 kg was, waarmee die werkers koeke bou. In ‘n korf bly die koningin in die onderste deel – die boonste heuning kan dus uitgehaal word. ‘n By gaan dood nadat hy jou gesteek het, want sy angel is aan sy ingewande vas. Bysteek help vir rumatiek, maar net 2 steke is genoeg om ‘n hoender dood te maak. Heuning bestaan uit 87% suiker en 13% vog, en is ook goed vir wonde.
Heuning se smake en kleure wissel volgens die blomme wat gebruik word. Garingboom en Zambië se heuning is bv donker en sleg. Fynbos-heuning het weer ‘n vreemde smaak. Canola heuning versuiker besonder vinnig, maar heuning kan nie sleg word nie. Daar is al bruikbare heuning in Egipte se piramides ontdek.
Dordrecht se Landbousaamroeper, Lenie Fourie, het Frans bedank en ‘n geskenk oorhandig. Hy bied ook verskeie botteltjies heuning te koop aan.
Frans gesels entoesiasties oor sy Bye
Foto’s van die sement korwe
Die houtrakke wat binne-in die sementkorwe pas
Die uitrusting en roker waarmee heuning veilig uitgehaal kan word
Leave A Comment