Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Datum: 14 September 2022
Beriggewer: Theresa Troskie
Blokraaisel e.a.: Renée Swanepoel wat onlangs die naaswenner van die
blokkiesraaiselprogram op TV kanaal 147 (VIA) was, deel haar ervarings met ons.
Die opnames het in die Naspersgebou in Kaapstad plaasgevind.
Die kleure en patrone op die deelnemers se klere, is eers goedgekeur – sekere kleure en patrone werk nie goed saam met die kameras nie! Sommige deelnemers moes soms gaan verklee.
Groot dele van wat in die opnames gesê is, is uiteindelik voordat dit uitgesaai is, gesny.
Omdat die hele kompetisie afgehandel word voordat dit uitgesaai word, moet deelnemers baie in hul pasoppens wees vir wat hulle sê, veral as daar na tyd verwys word. Natuurlik moet hulle ook die uitkoms van die kompetisie geheim hou tot nadat dit uitgesaai is. Dit was nogal amusant dat mense haar weekliks raad gegee het vir die volgende week se blokraaisel terwyl die hele kompetisie toe reeds afgehandel was!
Renée leer ons ook hoe die Wordle oftewel Wortel blokkiesraaisels waaraan ’n mens elke dag op die internet kan deelneem, werk.
Otis Kings’s Calculator: Hannelize van Heerden demonstreer hoe hierdie ou
“sakrekenaar” wat deur ’n Engelse ingenieur reeds in 1921 ontwerp en gemaak is, werk. Hierdie sogenaamde “pocket calculator” is spesifiek vir besigheidslui gemaak as ’n “business calculator”. Die “sakrekenaar” is gereeld opgegradeer en die verskillende modelle is alfabeties genommer. Die een wat sy gedemonstreer het was reeds K. Dit is egter nie net ’n eenvoudige geskuif van die buise om ’n antwoord te bepaal nie, die desimale moes alles met hoofrekening gedoen word!
Maak van terrarium: Elana Grobler demonstreer hoedat ’n terrarium suksesvol in ’n glasbak gemaak kan word. Die bak kan oop of toe wees, bv. onder ’n koepel of in ’n ou vistenkie met ’n deksel, ens. Die mooiste miniatuurtuintjies kan gemaak word.
- Was die glasbak met 2 dele asyn en 1 deel water.
- Die onderste laag is gruisklippies wat redelik dig gestrooi word.
- Plaas ’n gaaslappie of iets soortgelyk op die gruis om te verhoed dat die grond regdeur tot op die bodem deurdring.
- Hierna volg ’n lagie geaktiveerde steenkool – dit weer slegte reuke en verrotting af. Dit word ook in vistenke gebruik.
- Nou volg ’n lagie goeie komposgrond.
- Plant van dieselfde tipe plante, bv. vetplantjies. Die punte kan in hormoonpoeier/bakpoeier gedruk word voordat dit geplant word om wortelvorming te aktiveer. ’n Moslagie kan op die grond tussen die plantjies geplaas word om vog in die grond te help behou.
- Maak so eenkeer per week nat, deur die plantjies met ’n spuitkannetjie met water te bespuit.
Kintsugi: Adri Krüger demonstreer hierdie Japannese kunsvorm wat gebruik word om byvoorbeeld ’n erdepot of glasvaas te las met goud, silwer of platinum. Oorspronklik is die potte met egte goud gelas, want die kraak is sigbaarder gemaak om dit te aksentueer en om deel van die pot se skoonheid te vorm. Soos die siel/gees dikwels seerkry of “breek” kan dit sterker en mooier wees as dit weer heel word.
Adri beveel aan dat die skerp rande van die gebreekte vaas eers effens afgeskuur word, sodat dit nie perfek inmekaar pas nie.
Epoksie word gebruik om die stukke van die vaas te las. Daar kan geëksperimenteer word met kleurstof/goudpoeier in die epoksie om die kraak sigbaarder te maak. Die epoksie wat effens by die kraak “uitpeul” kan ook weerskante goud of silwer geverf word as dit droog geword het.
Leave A Comment