Sirkel: Swd
Tak: Klein-Brakrivier
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Lydie Terblanche
Datum: 30 Augustus 2022
Klein-Brakrivier: Augustus se vol program
Klein-Brakrivier VLV het soos gewoonlik op 30 Augustus ‘n vol program aan lede en gaste gebied. Gerda Sieberts het die geleentheid geopen en daarna het die oggend weggespring met Lirian Alencar, bekende belly dancer in die omgewing wat die dames se heupe laat wikkel het. Lirian het groot applous uitgelok toe sy tot almal se verbasing ook op ‘Meisie sonder Sokkies’ ‘n item gelewer het. Lirian het ‘n geskenkbewys aan een gelukkige dame geskenk.
Die volgende spreker was Johan Snyman van die Groot-Brakrivier Brug Klub, wat dié ingewikkelde kaartspel in gewone taal kom verduidelik het. As die enigste van die manlike geslag die oggend, het die dames aan sy lippe gehang en baie vrae gevra. Johan het ook gratis opleiding aan mense wat belangstel, aangebied.
Cecilia Pieterse, wat die 2022 Kongres bygewoon het, het terugvoer gegee oor inspirerende toesprake tydens die geleentheid. SWD het die beker ontvang vir die meeste nuwe lede, en Klein-Brak het baie bygedra om hierdie prys te verower. Die tak se eie Retha Nagel, het ook vierde plek met haar weefwerk gewen.
Die laaste gas vir die oggend was Amanda Marais van Provision Wellness wat oor persoonlike welstand gesels. Amanda met 16 jaar se ervaring, het ‘n alternatiewe hantering van baie algemene probleme soos moegheid, pyn, velaandoening, sinusitis, spysvertering kwessies en meer, bespreek. Twee gelukkige dames het groot geskenkbewyse van Amanda gekry.
Daarna het almal weggeval aan smullekker kerrie en rys wat die gasvroue van die dag voorgesit het. Dit was egter nie al nie, ‘n nuwe intrekker in die omgewing Nazier Samodien het watertand Maleise geregte vir die oggend geskenk. Daar was alles en nog wat, soos Briyaanie met sambal, Samoosas met maalvleis, kerrie en mielies met kaas en Daltjies wat alles baie gewild en blitsig opgeraap is.
Voorwaar ‘n genotvolle oggend.
Lirian dans op Meisie sonder sokkies
Sirkel SWD se afgevaardigdes wat Kongres op Gansbaai bygewoon het
Krongres 2022 pryswenners
SWD verwerf ‘n trofee vir die meeste nuwe lede
Amanda Marais ontvang ‘n dankie-geskenk van Christa Vreugdenburg
Gerda Sieberts open die geleentheid
Johan Snyman gesels oor Brug
Leave A Comment