Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 30 Augustus 2022
VLV Voëlvlei ‘kuier’ in Indië
Die Opvoeding en Kultuur-komitee van die VLV-Voëlvlei het gesorg vir ‘n heerlike internasionale vergadering by hul Augustus byeenkoms.
Nancy Naidu van “Curry in a Hurry” het die dames in besonderheid ingelig oor die kultuur en gewoontes van die Indiërs in Suid-Afrika. Huwelike word deur die families van die bruid en bruidegom gereël, partykeer selfs sonder dat die twee mekaar goed ken. Oor die jare het die moderne jongmense egter daardie gebruik tot ‘n groot mate minder formeel begin benader.
In die Indiese kultuur is opvoeding baie belangrik. Goeie punte in wiskunde en wetenskap is baie belangrik en ouers verwag dikwels dat hul kinders as dokters of rekenmeesters sal afstudeer.
Omdat die koei volgens die Hindoegeloof ‘n heilige dier is, word beesvleis nie deur hulle geëet nie. Hulle beskou die koei as ‘n moeder figuur en daarom word hul verbied om koeie dood te maak.
Die Hindoes glo in ‘n almagtige opperwese, maar het ook baie ander gode. Hul lewensingesteldheid word saamgevat in die woorde: ‘Be good, do good’ en ‘Do not condemn, accept”.
Lig en liggies speel ‘n belangrike rol in die Indiese kultuur. In die oggend word ‘n olielamp aangesteek om positiewe energie in die huis te bring.
Die Fees van die Ligte of Diwali is ‘n belangrike viering van lig waartydens vuurwerke vertoon word en kos uitgeruil word om respek en goedheid aan ander te toon. Ongelukkig vir hulle, het die afvuur van vuurwerke oor die jare baie afgeneem in Suid Afrika.
‘n Ander baie groot feesviering is ‘n troue. Reeds ‘n week voor die tyd kom die ouer vroue bymekaar om te begin voorberei. Drie dae voor die tyd begin die fees wat deur die hele uitgebreide families van die bruid en bruidegom en hul vriendekring bygewoon word. Op die troudag word geskenke uitgeruil, en pronk veral die vroue in hul pragtige sari’s. Die klere weeg baie swaar en sommige dames is moeg na die dag se dra aan al die krale en swaar burduurwerk.
Met begrafnisse is dit ook ‘n geleentheid vir die hele uitgebreide famlie en vriendekring. Dié wat ver woon kontak deur middel van oproepe.
Om ‘n sari aan te trek is ‘n ingewikkelde proses. Nancy het ‘n demonstrasie gegee van hoe al die verskillende dele aangetrek en vasgemaak word.
Na die tyd het al die dames heerlik gesmul aan tipiese Indiese happies soos samoesas en chilliebites en Nancy se hoender brejanie. Die hele geleentheid het weer net bewys dat benewens al die verskille tussen volke en groepe mense, daar net soveel ooreenkomste is in lewenswaardes
Awesome. Wish is was a part of this event.
Awesome sharing of our culture.