VLVK Kongres

17 Augustus 2022

VLVK hou jaarkongres

Voorbereiding vir die VLVK Kongres van 2022 is reeds sedert die voorafgaande naweek in volle swang by die Panorama troulokaal in Gansbaai.

Onderstaande verklaring is,danksy volledige inligting vanaf die VLVK President, Estelle du Plessis, deur die mediaverteenwoordiger, Letty-Ann Möller, aan Die Burger, Hermanus Times, GansBerg en Suidernuus versprei.

Die Vroue Landbouvereniging van Kaapland (VLVK) hou op 18 en 19 Augustus 2022 sy jaarkongres op Gansbaai rondom die tema Die uitdaging van verandering / The challenge of change.

Die kongres sal geopen word deur Dr. Ivan Meyer, Minister van Landbou in die Wes-Kaap, wat ook die VLVK se Dankie-persoon van 2022 sal wees.

Ander gassprekers wat gaan praat rondom die temas van die VLVK se ses studierigtings sluit in:

  • Wicus Pretorius, redakteur van TUIS (Leefstyl)
  • Lishje Els (Opvoeding en Kultuur)
  • Chris Engelbrecht (Openbare Sake)
  • Irma Davel (Kunste en Handvlyt)
  • Tersia Joubert van SOILL (Gesondheid)
  • Helena Atkinson van Pangolin Africa (Landbou & Tuinbou)

Me. Magdie de Kock, Wêreldbondpresident van die WBPV en Me. Vanda Gagiano, komiteelid van die Wêreldbond Konferensiekomitee van 2023 in Maleisië, sal ook die geleentheid bywoon.

Op die openingsaand, Donderdag, 18 Augustus, word’n dinee aangebied met Charné Hugo as die gaskunstenaar, waartydens die prysuitdeling van die Leefstyl- en Kunste & Handvlytkompetisies sal plaasvind.  Artikels wat in dié kompetisies meegeding het, sal by die geleentheid uitgestal word.

Een van die ander hoogtepunte wat gereël is vir die mans, is ’n walvisbesigtigingstoer en ’n besoek aan die Pikkewyn- en Seevoëlreservaat.

Na verwagting sal ongeveer 220 kongresgangers, sprekers en eregaste van regoor die land die kongres bywoon.  Die geleentheid vind plaas by die Panorama, Nature’s Haven-lokaal op Gansbaai.