Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Gesondheid

Datum: 10 Augustus 2022

Beriggewer:  Theresa Troskie

Hugo Barendse is al vanaf geboorte siggestremd.  Ten spyte daarvan dat hy blind in een oog was en slegs 15% sig in sy ander oog het, was hy tot in Gr. 9 in ’n hoofstroom skool.  Sy tweelingboetie en sy ma het hom baie bygestaan met sy skoolwerk totdat die werk so eskaleer het dat die skool aanbeveel het dat hy spesiale onderrig moet kry.

In 2017 is hy na die Pionierskool in Worcester waar hy gematrikuleer het.  In Gr. 12 het hy aansoek gedoen vir ’n gidshond.  Hugo was altyd lief vir honde en het besef dat hy met die hulp van ’n gidshond baie meer onafhanklik sou kon wees.

Die keuring van ’n kandidaat vir ’n gidshond sluit die volgende in:

  • ’n Verteenwoordiger van die Gidshondvereniging van SA besoek die aansoeker en deurdringende vrae word gevra en beantwoord om die aansoeker met presies die regte hond te “partner”.
  • Hy moes na Pretoria reis om twee weke daar deur te bring om sy hond te leer ken en om te leer hoe om die hond te hanteer.
  • Daarna kom ’n verteenwoordiger/hondeafrigter saam met die aansoeker huis toe om hom daar touwys te maak.

Jaarliks besoek verteenwoordigers van die Gidshondvereniging die honde om te sien of dit steeds goed gaan met hulle by hul eienaars.  Enige iets wat ’n gidshond oorkom, moet aan die Gidshondvereniging gerapporteer word, bv. siekte of aanvalle deur ander honde, ens. Daar word baie geld in die honde belê en daar moet baie goed na hulle omgesien word.

Interessant is dat wanneer die hond die harnas en leiband aanhet, verander hy heeltemal van persoonlikheid en word hy ’n “werker”.  Hy voer opdragte uit en niks sal sy aandag van sy werk aftrek nie.

Net spesifieke bloedlyne word as gidshonde opgelei, bv. Labradors, Golden Retrievers en Duitse herdershonde.  Saad word van Duitsland ingevoer om tewe hier kunsmatig te insemineer.

Vandag woon Hugo as 21 jarige jongman in sy eie woonstel.  Hy werk by hul familiebesigheid en met die hulp van Astro, sy gidshond, kan hy baie dinge onafhanklik doen.

Onkunde oor gidshonde/werkende honde onder die publiek is baie algemeen.  Al bestaan daar wetgewing dat hierdie honde in ALLE openbare plekke toegelaat MOET word, is daar dikwels in die praktyk probleme hiermee.  Om hierdie rede dra Hugo altyd wetgewing hieroor met hom saam.

Hugo Barendse, siggestremde, met sy gidshond, Astro,  in sy harnas.

 

 

 

 

 

 

Hugo Barendse, gidshond Astro en Renée Swanepoel wat gereël het dat hy Murraysburg besoek