Sirkel: Overberg
Tak: Hermanus
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Marlene Swart
Datum: 27 Julie 2022
Hermanus-tak vier fees. Die 90 ste bestaansjaar was in die moelike 2020 toe alles beperk was, weens Covid, daarom vier ons nou ons 92ste bestaansjaar en is dankbaar daarvoor.
Die funksie word op ‘n wynplaas, Rivendell, in die Blissfull venue gehou. Die eienaars Francois Joubert en Jolene von Kotze ontsien geen moeite nie. Die tafels was mooi gedek en elke plek gemerk met die lid se naam en die spesifieke spyskaart soos vooraf bespreek. Kos was prentjie mooi en heerlik.
Hermien van Zyl , vorige sirkel president, vertel ons van die tak se geskiedenis. Die tak se eerste byeenkoms was op 14 Julie 1930, op ‘n nat koue aand in ‘n klein rietdak kerksaaltjie. Daar was 19 vroue teenwoordig, die NG Kerk se Ds Dirk du Toit neem die stoel en open die byeenkoms en mev Rivett word die eerste voorsitter. Jossie Ackerman, stigterslid van VLV is ook teenwoordig en sy inspireer die groepie vroue so dat hulle in 1931 reeds gereed was om die konferensie aan te bied. Die oorlogsjare knou almal, ook die VLV, maar onder die leiding van mev Matty Warmenhove ( ouma van die bekende Niel du Toit) en 7 lede hou hulle aan werk, al daal die banksaldo tot een sjieling. Die dames gaan egter voort en bly woeker en die ledetal styg tot 30. Staatmakers was Louise Joubert en Molly Fourie .Hulle bied ‘n eerste kongres aan vir 250 gaste in 1956. Louise Jooste was 37 jaar die voorsitter, waarna sy die leisels oorhandig aan Lydia Geldenhuys, dogter van Molly Fourie een van die stigterslede. Die tak se ledetal het by 50 gedraai en staan tans op 27 nou onder leiding van Magda Marais.
Van die grootste projekte wat deur die jare deur VLV gefinansier is, was die bou van die Grobbelaar saal in samewerking met die NG Kerk. Die eerste sooie in die kerktuin word deur VLV vroue gespit en daarna betaal hulle die loon van die werker wat in die tuin werk, totdat die kerk dit self kon bekostig.
Die speel apparaat in die Munisipale speelgronde word ook deur die VLV geskenk en met die inwyding van die nuwe Munisipale kantore in 1952, skenk hulle die Burgemeestersstoel. Die eerste strandrystoel was ook een van die skenkings, en verskaf groot vreugde. Die Fernkloof banke was ook ‘n geskenk van die VLV maar ongelukkig is dit deur brand vernietig. In 2008 word die VLV, deur middel van ‘n finansiële bydrae, deel van die gewilde Vos Kuspaadjie, wat van Vermont tot in Sandbaai gebou word.
Me Rienie Ludick, die Overberg Sirkelpresident dra die sirkel se gelukwense en groete boodskap oor. Sy sluit haar boodskap af met “ ‘n Vrou is soos ‘n horlosie. Van buite sien jy haar hande beweeg maar daar is iets binne haar hart wat haar energie gee om voort te gaan. Dit is God se Gees in haar. Sy gee rigting, en almal kyk gedurig na haar om koers en orde te behou”.
Voorsitter, Magda Marais, stel ‘n heildronk in en steek ‘n kers aan. Die koek bestaan uit 50 “cup cakes” met walvissterte as deel van die versiering. Dit was Nelmarie Theron en Dorothy Krige se handewerk. Die koekies word saam met koffie en tee as nagreg bedien. Bordjies was mooi versier met VLV 92.
Die oudste lid 94 jaar, Peggy van Druten, ontvang ‘n ruiker en Hesmarie Marx sing vir haar “Let it Be”.
Hermien van Zyl ( Vorige Sirkelpresident)
Peggy van Druten 94 jarige saam met haar dogter Desiree van Niekerk
Uitstalling van koekies Koekies word bedien.
Spektertjie voorgereg Hoender roulade Klapper beeskerrie
Mooi gedekte tafels met die Hermanus Takvaandel in agtergrond.
Leave A Comment