Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 26 Julie 2022
SLAAN STRES VIR “N SES!
Die dames van VLV Voëlvlei, het ‘n leersame vergadering gehad oor hoe om maklike stresbrekers te gebruik om stres hok te slaan.
Sirraldie Serfontein, ‘n kenner op die gebied, het beklemtoon dat oormatige stres negatiewe gevolge, soos bv. hoofpyne, slaaploosheid, verhoogde bloeddruk en kortasemigheid, op die liggaam het.
Sirraldie Serfontein
Sonder om sommer dadelik die chemiese weg met pille te neem, is daar ‘n paar stresbrekers wat binne elkeen se bereik en goedkoop is. Heel eerste is diep asemhaling. Dit laat jou dadelik ontspan. En om dit ‘n prettige oefening te maak, kan jy saam met die kinders, of alleen, seepborrels blaas. Dis ook belangrik om sosiaal te verkeer en met mense te gesels anders as op sosiale media. Kuier en lag saam. Wees kreatief en ontdek nuwe vaardighede. Die waarde van diere en die interaksie met jou troeteldiere is ook baie goeie terapie vir stres. Selfs net die dophou van voëls of ander diere kan jou laat ontspan. Om kaalvoet in die natuur tyd deur te bring en te stap, bring ‘n nuwe perspektief en verlig stres. Oefening kan selfs op die bed gedoen word deur bv. die alfabet met jou voete te ‘skryf’!
‘n Belangrike oorsaak van stres op die liggaam, is verkeerde eetgewoontes. Voorbeelde van gesonde voedsel as ‘n teenvoeter vir stres op die liggaam, is onder andere donker sjokolade, neute, bessies, avokado, lemoene, olierige vis, groentee, kaneel en aarbeie.
Insette op die vergadering is gelewer deur bestuurslede. Linzetta Smit het vertel van die ontstaan en geskiedenis van die VLV- tekstielmuseum in Stellenbosch, en ‘n besoek daaraan sterk aanbeveel. Cathy Klaassen het met die mooiste serpe gewys op allerhande verskillende maniere om dit te dra.
Na ‘n baie leersame middag is almal minder stresvol huis toe.
Leave A Comment